6.5.12

Die rooi granaat

Die rooi granaat deur die geliefde Suid-Afrikaner Audrey Blignault, is ‘n kortverhaalbundel wat ek terdeë geniet het.
Die boek, gepubliseer in 1970, is onlangs aan my toevertrou en ek het dié skat begin lees min wetend dat dit nie meer in druk is nie. 
Blignault word in die Afrikaanse letterkunde gesien as die voorste eksponenet van die informele essay; daardie literêre genre wat van die skrywer verwag om eerlik, onomworde en sonder skroom te skryf uit wat syself ervaar en hoe sy die lewe sien.
Nie net leer ken mens die skrywer se agtergrond nie (haar dogter is die skrywer Marié Heese en sy is verlangs familie van C.J. Langenhoven), maar raak sy baie waarhede aan - soms op 'n vreeslike komieklike wyse.
Ek sal die boek kan aanbeveel aan almal wat 'n breek wil neem van die ernstige boeke wat mens so dikwels lees.

“Net so onaanvaarbaar soos die vreeslike deftigheid van ons huise, is dit vir my dat ons nie meer by mekaar kuier nie: ons moet onthaal en ons moet onthaal word.  Vriende kan nie meer sommer by ‘n mens kom eet wat jy eet nie.  Nee, jy moet jou eers behoorlik verniel, liggaamlik, geestelik en geldelik, met die voorbereiding van ‘n elegante, verfynde, volstrek korrekte eetmaal voordat jy gaste kan nooi om ‘n aand by jou te kom deurbring.”

“Of ons ryk of arm is, ons het smaak nodig om te geniet wat ons het. Dis die genieting en nie die besit nie, wat ons gelukkig maak.  En die dinge wat ons nie geniet nie is die dinge wat vir ons duur is.”


No comments:

Post a Comment