30.5.12

Man in die middel

Man in die Middel, deur Chris Barnard, is 'n politiesgedrewe boek wat handel oor 'n Kleurlingman wie se vel so lig is dat hy hom voordoen as blank.  Die boek is in 1963 publiseer - op die hoogtepunt van rasseverskille - en in dié lig gesien baie kontroversieël.
Die karakters word goed beskryf en toon binne die 136 bladsye merkwaardige groei.
Die moeilike vraag word gestel of jy dieselfde sou doen indien jy jouself in so 'n situasie sou bevind.

"Iewers aan die donker kant van die vertrek kibber 'n wekker oor minute.  As hy na die stryery soek, dreig twee glimmende wysters skielik skraal uit hulle sirkel syfers: trae sinopse voordat sy brein begryp dat dit eenuur is.  Hy soek na sy sigarette en vuurhoutjies.  Stilte.  Dan die bekende plofgeluid as die geel vlammetjie in die donker oopbars en sy vingers verlig."


26.5.12

The Last Juror

John Grisham is bekend vir sy verhale oor hofsake, prokureurs en juries wat amper sonder uitsondering altyd in die Suide van Amerika afspeel.  The Last Juror is een van sy mees populêre boeke wat 'n New York Times #1 Bestseller was.
Die verhaal speel af in die 1970's in 'n klein dorpie in Mississippi. 'n Jong man, Willie Traynor, beland hier en neem die plaaslike koerant oor.  Tot sy verbasing is daar binnekort voorbladnuus in die vorm van 'n brutale moord op 'n weduwee.  Die koerant, wat op die punt van bankrotskap was, se verkoopsyfers skiet die hoogte in. 
Daar volg 'n hofsaak waar die jurie eerstens moet besluit of die aangeklagte skuldig is en indien wel, of hy tot die dood veroordeel moet word of lewenslange tronkstraf moet uitdien. 
Hoewel 'n groot deel van die boek voorspelbaar is, het Grisham 'n talent om lesers te boei en 'n skokkende einde te voorsien.

“The more boundless your vision, the more real you are.”

“What keeps life fascinating is the constant creativity of the soul.”


23.5.12

50 dinge wat jy moet weet

Ons moet onsself kan help.  Om op ander te vertrou om basiese take te verrig is onnodig en stresvol, vir beide partye.
Ek het ‘n blog ontdek wat 50 dinge wat jy vir jouself moet kan doen lys, kliek hier om die volle artikel te lees.
Hier is 'n paar van my gunstelinge:
  • Gebruik Google 
  • Onthou mense se name
  • Pak lig as jy reis
  • Stel 'n begroting op
  • Gee komplimente
  • Glimlag as daar 'n foto van jou geneem word
  • Wees 'n aangename gas
  • Maak 'n goeie eerste indruk
  • Hou jou huis skoon
Daar is sonder twyfel heelwat dinge op die lys waaraan ek moet werk!

Sê "kaas"!

22.5.12

Blomkoolsop

Dit klink effe vreemd – maar dit is ongelooflik smaaklik!

1 kop blomkool
3 eetlepels botter
3 eetlepels meel
500ml melk
500ml hoenderaftreksel
Kerrie
Cayenne peper
Sout
Swartpeper

Kook blomkool vir 5 minute in hoenderaftreksel.  In ‘n ander pot meng botter en meel tot glad en voeg melk en hoenderaftreksel (wat saam met blomkool gekook het).  Roer tot dit ‘n dik sous word.  Voeg blomkool, kerrie, cayenne peper, sout en swartpeper by na smaak.


20.5.12

Tembe Olifant Park

Die Tembe Olifant Park, ‘n reservaat tussen Zululand en Mozambiek, bied ‘n groot verskeidenheid wilde diere insluitend Afrika se grootste olifante, sowel as die res van die Groot Vyf.
Indien jy nie by die Park kan uitkom nie, voorsien die webwerf ‘n webcam wat 24 uur ‘n dag aan is, sodat jy regstreeks kan sien wat by die watergat gebeur.
Kliek hier om by die webcam uit te kom.

17.5.12

Wat's Nuus?

Die alombekende nuusleser Riaan Cruywagen het ‘n Suid-Afrikaanse ikoon geword na byna 43 jaar in die uitsaaiwese.   
Cruywagen het onlangs sy outobiografie genaamd Wat’s Nuus? publiseer.
Ek was aanvanklik skepties om dit te begin lees, maar was binne die eerste paragraaf aangenaam verras oor die skreiende eerlike vertelling van sy familie en sy ervaring van die uitsaaibedryf.
Cruywagen het die vermoeë om met homself die spot te dryf, staaltjies te vertel op ‘n humoristiese manier en deernis aan die dag te lê wanneer dit verwag word.
Dit blyk duidelik dat hy nie slegs die nuusleser is wat ons saans op SABC2 sien nie, maar ‘n intellektuele, emosionele en trotse Afrikaner.

“As mens luister na die geradbraakte Afrikaans wat in talle handelsflitse gehoor word, is dit duidelik dat reklame ‘n sluwe jakkals is wat die wingerd verinneweer, wat in sy onverdeelde gedienstigheid aan Mammon die taalstandaarde ondergrawe wat oor soveel jare met toewyding en sorg gevestig is.  En talle stemkunstenaars doen lustig mee aan die verminking van Afrikaans omdat hulle die kliënt tot elke prys ter wille wil wees – ten koste van Standaardafrikaans.”


16.5.12

Mzanzi Generators

Ek het onlangs Mzanzi Generators se website herontwerp om dit meer gebruikersvriendelik te maak.
Besoek gerus die website: met die winter wat sy kop uitsteek en Eskom wat nie aldag betroubaar is nie, is dit dalk nodig vir ‘n plan B.  Mzanzi verskaf ook tweedehandse kragopwekkers, UPS’e en Prepaid Kragmeters.

15.5.12

SmartHistory

Ek het ‘n opvoedkundige webwerf ontdek wat enige kunsliefhebber se belangstelling sal prikkel.
SmartHistory is ‘n kunsgeskiedenishandboek wat vrylik op die internet beskikbaar is.  Nie net bied hulle inligting oor kunstenaars, era’s en invloede in beide teks- en visuele formaat nie, maar word daar nou van videos gebruik gemaak – so al of jy in ‘n klaskamer sit.
Ek is mal oor die idee hiervan: inligting vir die beginner én vir die meer ervare kunsgeskiedkundige.
Ek het ook raakgelees dat hulle saam met Google ‘n kunsprojek aanvat.  Dit behoort ‘n projek en ‘n half te wees!

 Broadway Boogie Woogie - Piet Mondriaan (1942-1943)

14.5.12

Prison Break

Prison Break is seker die één reeks wat elke liewe persoon met ‘n televisie gekyk het.   
Wat Michael Scofield en Lincoln Burrows vir televisiereekse gedoen het kan in my opinie vergelyk word met wat Monét vir die kunswêreld beteken het.
Dit is juis die rede waarom ek en my beminde besluit het om weer die reeks te begin volg.  En wat ‘n verrassing was dit nie om weer dieselfde skok te beleef teenoor T-bag, deernis teenoor "DB Cooper" en Fernando Sucre aan te huts om sy Marié Cruz te kry nie.
Dit voel of ons ou vriende in ons sitkamer het en lekker saam kuier oor ‘n koppie koffie. 


11.5.12

The Pearl

Ek het nog ‘n John Steinbeck, The Pearl, op aanbeveling van my beminde begin lees.  Ek is nie lief daarvoor om boeke van dieselfde outeur kort na mekaar te lees nie, maar was vreeslik in my skik met dié verhaal.  Steinbeck het homself weereens as veelsydig en innoverend bewys. 
The Pearl word vertel as ‘n folktale, as’t ware op ‘n primitiewe manier wat die primitiewe karakters beklemtoon.  Wat die vertelling uitsonderlik maak is die skrywer se verwysing na verskeie liedjies – The song of the Family, The song of evil, The song of the Pearl – wat die leser ook “hoor” soos die storie verwikkel. 
Dié invalshoek dien dan ook as simbool vir die karakters se stryd tussen goed en kwaad, die onsekerheid van die toekoms en die harde realiteit.

“A town is a thing like a colonial animal.  A town has a nervous system and a head and shoulders and feet.  A town is thing separate from other towns, so that there are no two towns alike.  And a town has a whole emotion.  How news travels through a town is a mystery not easily to be solved.  News seems to move faster than small boys can scramble and dart to tell it, faster than women can call it over the fences.”


10.5.12

You've gotta love Jack


Mercedes Benz SLS

Ek en my beminde moes ‘n roadtrip na die groot stad van Johannesburg onderneem – definitief nie my gunsteling plek in die wêreld nie.
Maar tot ons groot verbasing het die uitstappie vrugte afgewerp in die vorm van ‘n swart Mercedes Benz SLS.  Nog net op foto’s het ons kennis gemaak met hierdie wondermotor; maar in realiteit is hierdie kragtige masjien selfs beter as wat ons onsself kon verbeel.
As ons nou ernstig begin spaar en als verkoop wat ons besit mag ons dalk oor 50 jaar dié kar bekostig.



9.5.12

Sushi

Hoewel ons‘n paar juweel restaurante in die omgewing het, het ek en my beminde altyd gehunker na ‘n Oosterse eetplek. En so wraggies waar; ‘n paar weke terug maak daar ‘n Chinese Restaurant en Sushi Bar net om die draai van ons oop!
Ons het nie op ons laat wag nie – die eerste kans wat ons gekry het, het ons gaan aanklop by Meneer en Mevrou Chang/Wong/Lee.  Hulle pryse is baie billik en met gevolg was daar geen keer nie.  Die ete het bestaan uit Prawn Maki, Prawn California Rolls, Crab California Rolls en Salmon Fashion Sandwiches.
En vir nagereg… Beef Chow Mein!


8.5.12

Borrelbad

Daar is iets wonderliks aan ‘n borrelbad na ‘n senu-tergende dag.
Warm water en skuim wat oor ineengetrekte spiere gly, die borrels wat jou haarlyn kielie en klam laat, en die kalmte van gemoed wat oor jou spoel is onvergelykbaar.
Die geur van laventel vertroetel jou ligaam en siel en jy word gereinig van die dag se fisiese en simboliese vullis.
Aahh, borrelbad, jy maak my vry!

6.5.12

Die rooi granaat

Die rooi granaat deur die geliefde Suid-Afrikaner Audrey Blignault, is ‘n kortverhaalbundel wat ek terdeë geniet het.
Die boek, gepubliseer in 1970, is onlangs aan my toevertrou en ek het dié skat begin lees min wetend dat dit nie meer in druk is nie. 
Blignault word in die Afrikaanse letterkunde gesien as die voorste eksponenet van die informele essay; daardie literêre genre wat van die skrywer verwag om eerlik, onomworde en sonder skroom te skryf uit wat syself ervaar en hoe sy die lewe sien.
Nie net leer ken mens die skrywer se agtergrond nie (haar dogter is die skrywer Marié Heese en sy is verlangs familie van C.J. Langenhoven), maar raak sy baie waarhede aan - soms op 'n vreeslike komieklike wyse.
Ek sal die boek kan aanbeveel aan almal wat 'n breek wil neem van die ernstige boeke wat mens so dikwels lees.

“Net so onaanvaarbaar soos die vreeslike deftigheid van ons huise, is dit vir my dat ons nie meer by mekaar kuier nie: ons moet onthaal en ons moet onthaal word.  Vriende kan nie meer sommer by ‘n mens kom eet wat jy eet nie.  Nee, jy moet jou eers behoorlik verniel, liggaamlik, geestelik en geldelik, met die voorbereiding van ‘n elegante, verfynde, volstrek korrekte eetmaal voordat jy gaste kan nooi om ‘n aand by jou te kom deurbring.”

“Of ons ryk of arm is, ons het smaak nodig om te geniet wat ons het. Dis die genieting en nie die besit nie, wat ons gelukkig maak.  En die dinge wat ons nie geniet nie is die dinge wat vir ons duur is.”


5.5.12

Katjiebotterkoekies

In die winter wil ek net eet eet eet! Ek het dus myself verbeel ek is ‘n bakster en dié heerlike grondboontjiebotterkoekies aangedurf met redelike sukses.  ‘n Koppie tee en ‘n koekie bly darem ‘n wenner!

125ml sagte botter
125ml grondboontjiebotter
125ml witsuiker
125ml bruinsuiker
1 eier
310ml meelblom
1ml sout
2.5ml koeksoda, opgelos in
60ml melk

Voorverhit die oond tot 150 grade.  Klop die eerste 4 bestandele tot lig.  Voeg eier by en meng goed.  Sif meelblom en sout saam en voeg by.  Voeg koeksodaoplossing by en meng goed.  Vorm balletjies en druk hulle effens plat op ‘n gesmeerde bakplaat.  Bak sowat 15 minute. 


4.5.12

9 Tale om te leer

Ek het ‘n interessante epos ontvang wat verband hou met die aanleer van nuwe tale.
Volgens Anne Merritt is daar nege tale wat ooreenkomste met Engels het en vervolgens makliker is om aan te leer as ander tale.
Die nege sluit die Skandanawiese tale Sweeds en Deens in, asook die Romantiese tale Frans, Italiaans en Romeens.
Gaan lees gerus die volledige artikel by MatadorNetwork.

3.5.12

Libellula op Facebook

Libellula Media het nou ‘n bladsy op Facebook. 
Gaan “like” dit om voordurend nuwe ontwerpe te sien en nuus te ontvang.

2.5.12

Laaste Legkaart

Dit is moeilik om te erken, maar ek het wraggies ‘n probleem.
Hierdie was die laaste legkaart – nou gaan daar meer tyd spandeer word om die huis reg te ruk, lekker kos te maak en ‘n ander stokperdjie uit te toets. 
Fietsry is dalk glad nie ‘n slegte idee nie…


1.5.12

Morocco

Ons het onlangs besluit om ‘n Around the World klub te begin.  Die doel van die klub is om maandeliks bymekaar te kom met ‘n land as tema; met die kos, dekor en ons uitrustings geinsprireer deur die spesifieke land. 
Ek en my beminde was eerste aan die beurt met Morocco as tema.  Die aand was ‘n reuse sukses en almal het soveel pret gehad met die opdress!

Voorgereg: Keker-ertjie sop
Hoofgereg: Heuning hoender tagine met couscous
Nagereg: Klapper en amandel truffles