28.6.12

Avo's, avo's en nog avo's

My beminde reken avokadopere is die een ding wat die winter die moeite werd maak. Nou sit ons met 'n oormaat ryp avo's in die huis en moet ek kreatief begin dink voordat dit te laat is.
Roosterbroodjies met avo is uit die aard van die saak middagete vir die laaste 5 dae.
So het ek ook plaatkoekies aangedurf met maaskaas, avo en 'n repie biltong.
Woensdagaand het my beminde 'n heerlike vleisie op die vuur gegooi, en in plaas van 'n sousie het ons dit bedek met avo, basil pesto en tabasco.  Heerlik!
Gisteraand was dit 'n pastaslaai met spek, avo, feta en 'n romerige bloukaassous.
Daar is nog 6 ryp avokadopere. Enige idees?



10 000 hits!

10 000 pageviews in 9 maande!
Baie dankie aan almal wat getrou my blog volg - soms uit belangstelling en soms onder dwang (ja my beminde, ek praat van jou!)

Die 5 mees gelese artikels tot dusver:
Hoop om julle spoedig in te lig dat Pietersielie 100 000 hits behaal het! 

26.6.12

Sleeping Beauty Traders

Droomkliënte. Van daai wat geen veranderinge maak aan my aanvanklike uitleg en ontwerp nie. Wat komplimente links en regs uitdeel. Wat dink ek is die Andy Warhol van ontwerp.
Maar met die reeks kreatiewe produkte wat hul lewer aan die voet van die berg in Riversdal wat Sleeping Beauty heet, hoe dan anders?
Besoek gerus Sleeping Beauty Traders se webwerf hier en onderneem 'n ontdekkingsreis van meubels, dekor en porselein.


25.6.12

Lampskerms

Ons gaan stap elke oggend met Smallies - of soos ons papagaaitjie sal sê: Spallies.
Vanoggend was dit nog pikdonker en bibberkoud toe ons die strate aandurf, verby blaffende brakke en padwerke wat lyk of dit nooit tot 'n einde gaan kom nie.
My beminde merk dat die huis op die hoek deur nuwe intrekkers beset word, dat die groot bome afgekap is en dat daar 'n paar bokse op die sypaadjie staan.  Aasvoëls wat ons is moes ons eers gaan snuffel... en hoera! Drie pragtige glas lampskerms; ideaal vir ons nuwe kantoor, badkamer of speelkamer.
'n Bietjie seep en water, vernuf van my beminde en ons huisie word verander in 'n paleis!

18.6.12

Francois Nel

Francois Nel, Mnr Gay Suid-Afrika 2010 en Mnr Gay Wêreld 2011, het by my kom aanklop vir 'n webwerf. 
Na vele ontmoetings en eposse is daar op 'n look & feel besluit en het ek Francois se kreatiwiteit in pixels probeer vasvang.
Francois is nie net 'n ikoon onder jong gay mans nie, maar ook 'n talentvolle grimeerkunstenaar en haarstilis (gaan kyk na my troufoto's - as hy my soos 'n prinses kon lyk is hy wraggies sy sout werd).
Besoek die webwerf hier.


16.6.12

Man van staal

Al het ons reeds byna 100 ton se gemors weggery (of laat wegry) weens die aanbouings, het ons 'n bakkievrag vol onbruikbare staal gister na die scrap metal plek in Hermanstad gevat.
Wat 'n belewenis - en nie van die goeie soort nie. Ek was benoud vanaf die eerste oomblik dat ons wielie die stofpad getref het.
Daar is berge staal wat afgegooi is om weer verkoop te word, 'n halfdosyn werkers en 'n magdom lede van die publiek wat 'n rand of twee wil verdien met 'n stukkie pyp of 'n stukkende skottel.
My beminde het nie my vrees gedeel nie.  Inteendeel, my man is 'n man van staal.  Deur elke gangetjie, om elke draaitjie en bo-oor afval wat 'n hindernisbaan vorm beweeg hy soekend na 'n moontlike skat.  En dit kry hy toe ook in die vorm van 'n vlekvryestaal emmer en 'n lampskerm van lemmetjiesdraad. 
Sy oë skitter van blydskap en ek wil net vlug na 'n veiliger hawe!


10.6.12

Winternag

Winternag - Eugene Marais

O koud is die windjie
en skraal.
En blink in die dof-lig
en kaal,
so wyd as die Heer se genade,
lê die velde in sterlig en skade
En hoog in die rande,
versprei in die brande,
is die grassaad aan roere
soos winkende hande.

O treurig die wysie
op die ooswind se maat,
soos die lied van ‘n meisie
in haar liefde verlaat.
In elk’ grashalm se vou
blink ‘n druppel van dou,
en vinnig verbleek dit
tot ryp in die kou!

7.6.12

Wafels

Met my selfoonkontrak wat onlangs verval het, het ek vandag 'n spiksplinternuwe Blackberry gekry.  Wat my egter baie meer opgewonde maak as die kommunikasietoestel is die geskenk(kontant)bewys wat hiermee gepaard gaan.
In plaas daarvan om 'n versapper te koop soos ek aanvanklik beplan het, het ek by my beminde verneem dat ons veel meer sal baatvind by 'n wafelmasjien.  So gesê so gedaan.
Met my Kook en Geniet in die een hand en meel, bakpoeier en geskeide eiers in die ander, is 'n feesmaal voorberei. 
Wie wil nou 'n Kentuckyvlerkie hê as daar wafels met roomys op die spyskaart is?


5.6.12

Kasselshoop kaas

So dan en wan bederf ons onsself met soutkoekies, kaas en 'n paar smulhappies.
Ons hou veral van brie en maaskaas, maar probeer ook soms om avontuurlustig te wees met vreemde kase.  Dié keer was Kasselshoop se swartpeperkaas die gelukkige wenner; en verbeel jou my verbasing toe ek op die verpakking sien dat die kaas in my tuisdorp, Stilbaai, produseer word.
Kasselshoop kaas is geurig en bekostigbaar en kom in verskeie geure onder meer olyf, chilli en granaat.


4.6.12

The red pony

Ek het nou 'n oormaat John Steinbeck in.  Van die drie wat ek in die laaste paar weke gelees het was The Red Pony by verre my gunsteling.
Steinbeck vang die ingbore onskuld en goedheid van mense vas en ontdek deur 'n eenvoudige storie die misterie en hartseer wat met verlies gepaard gaan.
Dis 'n pragtige verhaal vir jonk en oud en hoewel dit in 1933 publiseer is bevat dit 'n universiële kwaliteit met betrekking tot die verhouding tussen mens en dier.

“No matter how good a man is, there's always some horse can pitch him.”


3.6.12

Monopoly

Ons hou van bordspeletjies en speel veral Rummicup, Scrabble en Uno.
Gisteraand het ons die Monopoly uitgepak vir 'n spel wat skaars twee ure lank was - glo my, dis baie kort vir hierdie eiendoms- en kansspeletjie.
Die rede hiervoor is dat ek, wat bittermin aan die wenkant is, vir 'n vreemde rede al die eiendomme en kontant met min moeite voor my gehad het.
Hoe wonderlik sou dit nie wees as dit regte bates was nie!