28.11.11

Nuwe kantoor

Met al die terugslae wat ons ervaar het is die bouery nou weer volspoed aan die gang.  Die tweede verdieping word met nuwe moed deur die bouers aangepak en ons is vasbeslote om dak op te sit voor die einde van die jaar.
Al is net die een muur van ons nuwe kantoor reeds gebou, sien ek ons werksplekkie met boekrakke teen die muur en die warm son wat ons lui maak teen laatmiddag.  En bowenal sien ek uit na ‘n kantoor wat skoon en netjies is – ons leef nou soos die karakters van Grey Gardens.


24.11.11

The Slap

Christos Tsiolkas se The Slap het groot opspraak gewek in skrywerskringe en is met vele pryse bekroon.
Tot my spyt het ek nie veel van die boek gedink nie. 
Die konsep is wel ‘n goeie een: ‘n kind word geslaan tydens ‘n braai deur ‘n man wat nie sy pa is nie.  Die vertellings is uit die oogpunte van karakters wat ooggetuies hiervan was.
Maar helaas, dit is vervelig, onkreatief en plat.  Ek dink as die verhaal meer bonkig vervat is sou ek anders gevoel het.  Sterkte aan almal wat die boek aanpak.


22.11.11

Kiekies

So paar weke terug het ons troufotograaf, Louis van Zyl, ‘n pre-wedding shoot gedoen.  
Dit is so ‘n blink idee om die fotograaf vooraf te leer ken – alle vrese en spanning word uit die weg geruim.
Ons was effe skrikkerig aan die begin (ek en my beminde, Kleinbrak is gemaak vir 'n kiekiemasjien), maar is baie in ons skik met die eindresultaat.
Gaan kyk ook hier vir nog foto’s.


20.11.11

Kleinblaartjie

Ons Saterdagaand was opwindend en uitputtend.  Ons bron van vermaak: Gian (2), Alexa (4) en Kleinbrak (7).
Die aand het bestaan uit balspeel, swaai, wegkruipertjie en smeek dat hulle mekaar nie met sand moet gooi nie.  Daar is op tafels gedans en gesnak na asem soos ons lag toe my beminde nie ‘n warm dingetjie oor Gian se kop kon kry nie. 
Met ‘n gesukkel is die kleuters pizza en Barney sappies gevoer.  Toe ek ‘n pizza-korsie vir hulle hondjie gee vra Alexa ewe verontwaardig: “Nou wat van Kleinblaartjie?”   
Ek kon nie help om haar ‘n vet soen en druk te gee nie!

19.11.11

Kat se blad

Chaos: nie kinders-harloop-in-die-huis-rond-en-breek-ornamente tipe chaos nie, absolute aardskuddende dis-‘n-reuse-gemors tipe chaos.
Die braaikamer se vloer sowel as die tweede verdieping se blad is met ‘n gestoei gegooi. 
Binne die eerste uur en slegs 18 vierkante meter verder het die sementpomp die gees gegee: let wel dat dit van die begin af maar hoes-hoes gegaan het en dat daar meer water en klip as enige iets anders uit sy tuit gespuit het.
Ses ure en drie sementtrokke, ‘n halfpyp van sinkplate en gebreekte plakkies en -gemoedere verder, is dié projek afgehandel.  

Werkers wag in spanning vir die tweede sementtrok.

16.11.11

Gestrand

Ek wens die woord gestrand het iets te make gehad met sand en see en warm dae, want glo my vry, ek sou enige iets gee om nou gestrand op die strand te wees.
Die teendeel is egter die geval.  Ons bakkie is in vir ‘n diens en daar is vermoedelik fout met onderdele waarvan ek niks kan uitmaak nie. 
Ek het geen intensie om iewers heen te gaan nie, maar die wete dat as ek sou wou in die pad val vir enige duistere rede en nie kan nie, is genoeg om my bors te laat toetrek. 
Dit is eintlik verskriklik om te dink dat mens so afhanklik geraak het van vier wiele – die goeie ou dae waar Voortrekkertannies kaalvoet oor die Drakensberge getrek het laat my skoon skaam kry.

15.11.11

Mercedes Benz Kuns

Ek is absoluut mal oor hierdie kiekie wat my geliefde vandag van ‘n Mercedes Benz bakkie geneem het.
Die kleure en komposisie herinner aan ‘n foto-uitstalling waar dames in kort swart nommertjies en mans in turtlenecks aandagtig die kuns bestudeer, wyl eksotiese drankies tydsaam bemin word.


14.11.11

Voëlvry

Ek skryf vanmiddag my laaste eksamen van die semester.
Need I say more?

13.11.11

Pot-Pourri

Die vertellings van die Paryse lewe is in tipiese Brink-styl met temas wat nie sommer in reisgidse te vinde sal wees nie.  Sketse van boemelaars, snaakse losies en arm kunstenaars is maar van die vreemde inspirasie waarmee André Brink Parys inkleur.
Brink se woordkeuses en vergelykings is uniek aan sy baanbrekerwerk in Afrikaanse prosa en sal altyd ‘n gunsteling bly.
Pot-Pourri is in 1962 uitgegee met sy laaste druk in 1967.  Indien jy êrens hierdie juweel kan opspoor (veral as hy ‘n stofomslag het), raai ek jou aan om vir hom ‘n plekkie te kry in jou boekrak.

“En dag vir dag staan die son skroeiend in die stil wit lig: nie die goue, milde son van die suide waar Van Gogh van kleure gek geraak het nie, maar ‘n boosaardige, bedrukkende vlambal wat genadeloos alle mure deurdring en die stad ‘n smeulende bakoond maak.”


10.11.11

Kontakvorms op die interweb

As ‘n ontwerper wat ‘n voorliefde het vir printmedia, maak ek seker dat ek op datum bly van current trends.
Webtuistes aan die ander kant is vir my maar ‘n wyse van inkomste – ek hou daarvan om dit visueel aantreklik te maak, maar die tegniese deel daarvan verafsku ek.
Dit is nou juis met die coding waarmee ek al vir weke sukkel met twee bepaalde Flash webwerwe.  Dit blyk heel eenvoudig te wees om ‘n php dokument te koppel met die Flash coding, maar helaas.  Na ek hulp ingeroep het van heinde en verre sonder enige sukses, was my laaste opsie ons getroue vriend Google.
Wees nie bevrees: na lang ure se naels kou en ‘n onderlip wat bewe werk die vervlakste kontakvorm! 
Drie hoera’s vir Google!

9.11.11

Mid-week bederf

In die gejaagdheid van bou, werk, eksamen en troue reël is daar maar min tyd vir stilsit en ontspan.
Gisteraand het dit gevoel of ons die loterywenners is toe ons gesellig om ‘n vuurtjie kon sit en met nabetragting opinies lewer oor die afgelope week se verrigtinge.
‘n Heerlike stukkie rumpsteak is tot absolute perfeksie op die rooiwarm kole gebraai en dit is verorber saam met ‘n romerige mieliegereg.

Mieliegereg:
1 Blik Soetmielies
1 Koppie Melk
2 Eetlepels Maizena
3 Eiers
1 Eetlepel Botter
⅓ Teelepel Bakpoeier
2 Eetlepels Suiker
Knippie Sout
Meng alles saam en bak teen 180C tot ligbruin.


7.11.11

Google +

Kan iemand asb vir my ‘n goeie rede gee waarom mens ‘n Google+ rekening sowel as ‘n Facebook rekening moet hê?
Ek kan regtig nie sien dat Google+ die voorste sosiale netwerk sal word nie.

Deurbraak

Die kap en bou gaan fluks voort.   Ons het ons kamer ontruim en moes al die meubels, boeke en ornamente in die spaarkamer stoor en ons klere op dié se bed uitstrooi.  Die gevolg is ons matras is netjies op die sitkamervloer voor die televisie gegooi en daar kiep ons salig as die son sak.
Met ‘n getimmer en glad sonder ‘n enkele venster wat breek, is daar suksesvol deurgebreek vanaf die hoofslaapkamer na die pasgeboude badkamer.  Die badkamer se vloer is gegooi en die dak is op – dit is ‘n kwessie van dae voordat ek ‘n kokende borrelbad kan geniet.   
Hierdie is een van die hoogtepunte van die bouwerk!


4.11.11

1.11.11

Eksamen

Die jaar is besig om tot ‘n einde te kom.  Kersversierings pronk in elke winkelvenster, kinders raak opgewonde oor ‘n seevakansie en studente skryf eksamen. 
Ek het pas my eerste vraestel voltooi – die maklikste van die drie vakke. 
Hoewel die voorafgaande dae se geleerdery uitmergelend is, jou oë drie van als begin sien en jy nie jou nek kan beweeg van die überspasmas nie, is dit maar ‘n vulletjie vergelykend met die skrywery self. 
‘n Saal gepak met duisende stresbolle wat angstig notas vir ‘n laaste keer deurgaan en die agterkante van penne kou soos pandas aan bamboes, is die milieu vir die senutergende vraestel wat jou te wagte is. 
Indien jy die hitte van die saal kan deurstaan en dit tóg regkry om die eksamen te voltooi, is dit alles tevergeefs … jy kan nie uit jou sitplek opstaan nie.  Student A voor jou se stoel is styf teen jou beknopte tafeltjie gedruk, en sodra jy ‘n sentimeter agtertoe skuifel steur jy Student B aan wie se tafel jy stamp.
Dit is dan dus die rede vir die skaafmerke op my knieë: ek het onderdeur die tafel geglip.