20.9.12

Paella

Maak hierdie in 'n groot pot - anders gaan jy moeilikheid optel ... glo my vry.

2 x Uie
2 x Teelepels knoffel
1 x Pakkie gesnipperde spek
2 x Hoenderborsies
1 x Koppie basmati rys
1 x Soetrissie
1 x Koppie ertjies
800g Garnale
750ml Hoenderaftreksel
Tiemie
Swartpeper

Braai uie, knoffel, spek en hoender tot gaar. Voeg soetrissie, tiemie en swartpeper by en braai vir 5 minute. Gooi hoenderaftreksel en rys by en laat kook vir 15 minute. Voeg ertjies en garnale by en kook tot gaar.
Die paella word lekkerder hoe langer dit staan. Geniet!


17.9.12

Breakfast at Tiffany's

Breakfast at Tiffany's deur die flambojante Truman Capote is sinoniem met die stylvolle Audrey Hepburn wat die rol vertolk het van Holly Golightly.
Die 1961 film bly 'n treffer, maar ek is bevrees dat die novelle agtergeblewe gelaat is. Capote is 'n briljante skrywer en dit is onmoontlik om sy komiese insinuasies en ironie op die silwerdoek vas te vang.
Jy kan nie help om te val vir die sjarme en skoonheid van Holly Golightly nie, maar in die gedrukte weergawe kom dit meer duidelik na vore dat sy 'n vrou soekend na aanvaarding en liefde is.
Mense sal oor 500 jaar steeds hierdie klassieke verhaal met 'n glimlag lees en 'n traan pik teen die laaste bladsy.

“What I found does the most good is just to get into a taxi and go to Tiffany's. It calms me down right away, the quietness and the proud look of it; nothing very bad could happen to you there.”

Mieliebrood

O my genugtig! Dit is heerlik verby! Ons het dit gister saam met gebraaide skaapribbetjie geëet.

500g Bruismeel
5ml Sout
1 Blik Geroomde Mielies
2 Eiers
60ml Melk
25ml Kookolie

Sif bruismeel en sout saam. Voeg suikermielies by.  Klits eiers, melk en kookolie saam en voeg by.  Sny mielies en vloeistof met 'n mes tot goed gemeng. Skep deeg in pan, maak bo-op gelyk en bak sowat 45 minute tot deurgebak teen 190 grade.

* 'n Koppie kaas of gebraaide spek kan ook bygevoeg word.

15.9.12

Uitdaging: Dag 13

Ek het die chronologiese volgorde van die 30 Dag Uitdaging bietjie geskommel.
Ek werk nou al so lank aan hierdie skildery dat ek nou wraggies nie kan wag tot ek by dag 13 (Comic) uitkom nie!
So hier is die finale produk: Asterix & Obelix (Olie op doek).

12.9.12

Die Swye van Mario Salviati

Na die eerste sin van Etienne van Heerden se Die Swye van Mario Salviati het ek geweet dit gaan 'n puik boek wees.  Die intrige, smart en historiese feite het my deurentyd ademloos gelaat.
Van Heerden het deeglike navorsing gedoen: die verhaal speel af in 'n klein dorpie in die Karoo en strek van voor die Anglo-Boereoorlog tot net na die nuwe demokrasie in 1994.
Met goud, water en vere as hooftemas vleg die storie van die Pistoriusse en Berghs soos 'n veelkleurige mat inmekaar.
'n Fantastiese boek - verseker een van die beste Afrikaanse boeke wat in die laaste eeu publiseer is.

"Sagte, harde klip; ek ruik jou brandreuk soos die vuur in jou kla omdat ek jou wil mak maak; ek ruik in jou die smelt en die omdolwings van jare gelede, toe God nog die mens aan die droom was, toe jy, ouer as ons almal, hier gebore is uit materiale so sag en vloeibaar soos water."




9.9.12

Curly Sue

Soos dit nou maar gaan met dames, raak ek vinnig verveeld met my hare. Met die dat my hare die laaste twee jaar presies dieselfde lyk (lank, reguit, donker met grys drade hier en daar) eksperimenteer ek graag met knippies, strikkies, rekkies en rosies.  Maar helaas, dit was tyd vir 'n verandering!
So verlede week is ek na my haarkapster met 'n idee in my kop wat my beminde aangehuts het. Krulle. Permanente krulle.
Na drie moeisame ure kyk ek vir myself in die spieël, moet ek lag of moet ek huil? Ek het two-minute-noodles vir hare!!

4.9.12

Susan Roos Juwele

Susan Roos - ontwerper van my trouring - het 'n spesiale talent om met metale en edelstene te werk.
Wat 'n voorreg om haar nuwe webtuiste met 'n middeleeuse tema te ontwerp. Kliek hier om Susan Roos Juwele te besoek, maar wees gewaarsku: daar gaan definitief iets wees wat jy gaan wil bestel!







2.9.12

Mexican Fiesta

Olé!
'n Aand van sombrero's, kitare, Mexican waves en Cactus Jack.  Ek het myself verbeel ek is Frida Kahlo! Dié Meksikaanse Around The World aksie sal vir komende jare 'n hoogtepunt bly.

Voorgereg: Gebraaide mielies
Hoofgereg: Fajitas, Tacos, Nachos
Nagereg: Flanby