26.8.12

Katastrofes

Breyten Breytenbach is 'n digter en dit is duidelik te siene in sy kortverhaalbundel Katastrofes. Sy gebruik van metafore, alliterasie en vergelykings laat mens dikwels twyfel aan die formaat; dikwels is jy van mening dat dit eerder 'n gedig is wat jy lees.
Dit bly wel 'n kunswerk en altyd 'n bederf om een van die Sestigers te lees.

"Hy sit met die skouertjies mismoedig vooroorgeboë op sy stowwerige reiskoffer.  Sy twee gesonde en vlesige boude druk 'n duik in die reiskoffer se deksel. Hy is oppad van iewers na êrens."

21.8.12

Kussings

Sleeping Beauty Traders het my onlangs genader om ontwerpe te doen vir kussings wat hulle wil verkoop.
Dit was loshande een van die lekkerste projekte waaraan ek nog gewerk het.
Die kussings behoort teen die einde September gereed te wees vir bestelling.
Hier is 'n paar van die ontwerpe:




20.8.12

Garnale- en knoffelpasta

500g garnale
2 teelepels knoffel
250ml room
Tiemie
Sout
Swartpeper
Tagliatelle pasta

Braai garnale en knoffel tot gaar. Voeg tiemie, sout en swartpeper by en braai vir 3 minute. Gooi room by en laat kook.  Bedien met tagliatelle pasta.
Dis verskriklik ryk, maar heerlik! Dink 'n bietjie parmesan sal die gereg afrond.

19.8.12

The Curious Incident of the Dog in the Night-Time

Mark Haddon het homself baie goed van sy taak gekwyt in The Curious Incident of the Dog in the Night-Time.
Dié eerstepersoonsvertelling van 'n seun wat lei aan Asperger's sindroom, bied die vreemde werking van sy gedagtes en optredes.
Hoewel die boek te vinde is in die jeug-afdeling van die biblioteek, sal ek dit aanbeveel vir enige een met 'n aanvoeling vir die underdog - daardie mense wat ekstra hard moet werk om bo uit te kom.

“Prime numbers are what is left when you have taken all the patterns away. I think prime numbers are like life. They are very logical but you could never work out the rules, even if you spent all your time thinking about them.”

 

16.8.12

Slimste hond

Ons motor was gister in om gediens te word, so die dag was maar deurmekaar.  Kleinbrakkies het so 'n fyn aanvoeling vir haar roetine dat sy vermoedelik gedink het dat dit Sondag was. Dit beteken in haar wêreld net een ding: ons gaan parkie toe en vir die rede mag sy in die bakkie ry.
Toe dit tyd was om die motor te gaan haal was Kleinbrak vinniger as Flash - sommer voor in, want dit het na haar sin te lank gevat om die bak oop te maak.
Is sy nie te pragtig vir woorde nie?


Clivias

Dis heerlike lente, die winter is verby...
Wel, amper.  Die eerste tekens van seisoenverandering is hier. Ons clivias het begin blom en dit lyk te pragtig na 'n yslike lang winter.
Nou net vir die eerste reënval - dan is dit rokkies en sandale vir die volgende ses maande! Hiep hiep hoera!


15.8.12

Uitdaging: Dag 3

Gunsteling kos? Watter tipe vraag is dit?  Ek hou van kos. Alle kos.
So hier is die derde uitdaging in kleurpotlode: Waatlemoen.

12.8.12

Anderkant die stilte

As een van André Brink se grootste aanhangers is dit moeilik om 'n objektiewe resensie oor Anderkant die Stilte te skryf. 
Brink bly briljant, en dié roman is die beste een wat ek nog van hom teëgekom het.
Die verhaal vertel die storie van Hanna X, 'n Duitse vrou wat in die vroeë 1900's na Suidwes-Afrika gegaan het - baie vroue is in hierdie tyd oorgestuur om te dien as huishulpe en selfs as vroue vir die Duitse soldate wat daar gestasioneer was.  Maar met haar aankoms besef sy dat dit nie die land van palmbome is waarvan sy gedroom het nie, maar 'n nagmerrie wat geen vrou haarself kan indink nie.
Hanna word haar lewe lank onderdruk en mishandel deur mans, en in die nuwe land ervaar sy 'n laagtepunt. En dan kom die wraak.
Brink skryf 'n liriese boek oor 'n ondraaglike tema en slaag daarin om die leser te boei van begin tot einde, ademloos in die gebeure asook sy skryfstyl en taalgebruik.

"Die huis. Eerder 'n uitgroeisel van die aarde as 'n huis.  Geplaas in 'n landskap uit die Ou Testament, 'n maanlandskap, 'n droomlandskap."


9.8.12

Uitdaging: Dag 2

Die tweede uitdaging van die 30 Dag Uitdaging behels die teken van jou gunsteling dier. Diere was nog nooit my spesialiteit nie, so dit is inderdaad 'n uitdaging en 'n half.
Work in progress; Kleinbrak - olie op doek.

8.8.12

Hoenderkerrie

Met gister wat loshande die koudste dag van die seisoen was, was 'n warm kerrie aan die orde van die dag. Ek het dié hoenderkerrie in die tagine gemaak, maar glo enige pot/pan sal voldoene wees.

3 hoenderborsies, in blokkies gesny
2 uie, in ringe gesny
1 greenpepper, in repies gesny
2 teelepels kaneel
2 teelepels gemmer
2 teelepels borrie
1 teelepel cayenne peper
2 eetlepels medium kerrie
½ pakkie hoenderroomsop

Braai uie en greenpepper tot bruin. Voeg kaneel, gemmer, borrie en cayenne peper by en meng goed. Gooi hoender by, braai tot gaar en roer kerrie in. Meng hoenderroomsop met 250ml melk en 250ml kookwater en roer by hoender.  Laat prut vir ongeveer 1 tot 2ure sodat die geure tot hul reg kom.  Bedien met basmati rys.



7.8.12

Uitdaging: Dag 1

Die eerste opdrag van die 30 Dag Uitdaging is om jouself te teken.
Ek het so lanklaas met waterverf gewerk, maar het gereken dat dit die prentjie mooi sal afrond ... en dit was vet pret!

5.8.12

OMD

Ons vroeë verjaardaggeskenke van ons Pretoria-familie was kaartjies vir die OMD-show by Emperor's Palace.
Wat 'n belewenis!
Dié Britte het ons op die punte van ons stoele gehad - spreekwoordelik - want almal het aan't spring en handeklap en saamsing geraak.  Die gees van die sowat 10 000 mense was een van nostalgie; om hul jongdae te herleef (meeste van die toeskouers was in die 1980's jeugdiges). 'n Regte rock-konsert!
Hoewel elke liedjie jou hoendervleis gegee het was die hoogtepunt Maid of Orleans.

4.8.12

Summertime

Summertime is nie streng outobiografies nie, maar werp 'n insiggewende blik op die lewe van J.M. Coetzee.
Dié Nobelprys vir Literatuur wenner pak die boek aan deur die oë van 'n jong skrywer wat navorsing doen om 'n biografie van John Coetzee te skryf.  Die konsep is puik en word deur ou dagboekinskrywings, notas en onderhoude met belangrike mense in Coetzee se lewe, gevorm.
Verbasend word daar nie baie klem gelê op Coetzee se lewe in die akademie of as skrywer nie, maar eerder op sy onvermoë om verhoudings te hê - nie net met vroue nie, maar ook met familielede en vriende. Die konsep van fisiese werk en die satisfaksie wat daarmee gepaard gaan, kom ook deurgaans na vore.
J.M. Coetzee is een van Suid-Afrika se voorste skrywers en word wêreldwyd erken as 'n voorloper van anti-apartheid in literatuur.

“A book should be an axe to chop open the frozen sea inside us.”

“How many of the ragged workingmen who pass him in the street are secret authors of works that will outlast them: roads, walls, pylons? Immortality of a kind, a limited immortality, is not so hard to achieve after all. Why then does he persist in inscribing marks on paper, in the faint hope that people not yet born will take the trouble to decipher them?” 



1.8.12

30 Dag Uitdaging

'n Paar van my vriende het al hierdie uitdaging aangepak - en nou is dit my beurt. 
Dit gaan nie in die volgende (opeenvolgende) 30 dae gebeur nie, maar hou gerus die blog dop vir 'n paar van my pogings.
Ek hoop hierdie dien vir jou ook as inspirasie!