31.10.11

Wallpaper November 2011

Smashing Magazine het maandeliks ‘n groot aantal desktop wallpapers van ontwerpers wêreldwyd wat wil naam maak.  Ek volg hulle vir die laaste twee jaar en daar is altyd ontwerpe wat my asem wegslaan. 
Kreatiwiteit, funsionaliteit en inisiatief word aan die dag gelê om dié wat die kunswerke aflaai te inspireer vir die komende maand.
Gaan kyk gerus na die wallpapers vir November 2011.

27.10.11

The Girl with the Dragon Tattoo

Wow!
Ek was aangenaam verras deur hierdie gekommersialiseerde boek.  Geen wonder almal is aan die gons oor die meesterriller deur Stieg Larsson nie. 
Die storielyn is intens met drie hoof drade wat teen die middel van die boek saamgevoeg word om die intrige te vervolmaak.  Die karakters is uniek, nie net in hulle voorkoms nie (veral Lisbeth Salander) maar ook in hul denkwyses.  Hoewel daar oomblike in die boek is wat baie wreed en eksplisiet is, is daar ook ‘n diep emosionele ondertoon.
Jy sal die boek nie wil neersit nie – The Girl with the Dragon Tattoo is ‘n definitiewe MUST READ!


26.10.11

Gesyferdheid

Ek is tans besig met die ontwerp van ‘n webwerf wat die oorsaak van slapelose nagte is.  Die kliënt verkoop ingevoerde en plaaslike speelgoed wat kinderboeke insluit. 
Daar is onder meer opvoedkundige boeke: Knip en Plak vir Graad R; Geletterdheid vir Graad 1; Gesyferdheid vir Graad 2. 
Gesyferdheid?  Gesyferdheid… Gesyferdheid!  Wie het dié woord opgemaak?  Dit ontstel my verskriklik!

18.10.11

Catemba

Die Portugese restaurant, Catemba, is weggesteek in Hildastraat, Hatfield.  Hoewel die dekor veel te wense laat, het die items op die spyskaart alle verwagtinge oortref. 
Die sappige hoender schnitzel wat ek bestel het is gestop met spinasie en deurdrenk met ‘n sampioensous wat geen gelyke het nie.  Jy wag ‘n bietjie langer vir die kos om voorberei te word, maar dit is elke hemelse happie die moeite werd.  Hulle gebruik vars produkte en is beslis nie skaam met die botter nie.
‘n Lekker plekkie vir ‘n verlengde middagete indien jy jouself in die omgewing bevind.

17.10.11

Splinternuwe sikspens

Ter voorbereiding van Saterdag se engagement shoot wat voorlê, het ek my gaan hare kleur (because I’m worth it).  Wat ‘n wêreld se verskil maak ‘n gepamperlang nie aan ‘n vrou se gemoed nie?  Geen grys drade wat meer vir my loer deur die vaal bruin hare nie. 
Ek lyk vir myself soos ‘n skoonheidskoningin met glansende donker hare wat gans soos Elizabeth vir die volk wil wuif!

16.10.11

Mary and Max

Ons het gister Mary and Max gekyk.  Die film deur Adam Elliot gebruik stemme van Toni Colette, Eric Bana en Philip Seymour Hoffman.  Dit is 'n absolute moet-sien!



Kleinbrak kap dit flou

Met die bouery saam het ons erf aansienlik gekrip.  Vir Smalldog is dit ‘n groter aanpassing as vir ons.  Gereelde uitstappies na die plaaslike parkie dien as ‘n redelike oplossing vir die pinarrie.
Met Smallies agter in die bakkie stop ons vir ‘n verversinkie.  Ek het letterlik jare laas ‘n King Cone geëet, en hoewel dit heerlik was – soos alle roomys maar is – het ek ‘n vraag oor hierdie produk te stel.  Het King Cones wel gekrimp, of het dit net baie groter gelyk toe ek ‘n astertjie was?

 'n Bitter gelukkige Kleinbrak

14.10.11

Of Love and Other Demons

Gabriel Garcia Marquez is ‘n skrywer duisend.  Behalwe vir innoverende storielyne, is sy woordkeuses en sinskonstruksies uitdagend.
In Of Love and Other Demons kombineer hy satire met nostalgie en word die metafoor van duiwels gebruik om die menslike instink te beskryf.  Daar is ook ‘n magspel tussen liefde en haat teenwoordig: dikwels toegeiën aan geld, seks en jaloesie.
Lees die boek indien jy ‘n iets wil aandurf wat buite jou gemaksone is.


13.10.11

Fabio die Flonker

Na ‘n lang oggend op die pad het ek besluit om vinnig by Irene Village Mall in te hardloop vir die nodige kruideniers by Pick&Pay.  Ek fnuik myself altyd om te dink ek gaan “vinnig” inkopies doen.
Vandag se afleiding het niks te doen gehad met hopelose diens of leë rakke nie, maar wel met ‘n Italianer en spieëls en ligte wat my soos ‘n superstêr laat voel het.  Wat ‘n frustrasie!
Ek het niksvermoedend die sentrum ingestap toe Fabio my voorkeer en my hare begin streel.  Hy ruk ‘n blink ding uit en toe ek my oë uitvee is die een helfte van my kop ‘n krullebol en die anderkant waterpas.  Teen slegs R3000 (wat later R2000 geword het) kan ek hierdie wondermasjien besit en ure se pret met my haredos hê.  I think not.
Nodeloos om die sê, ek was nog nooit so vinnig in en uit ‘n winkel nie – ek het gelyk soos iets wat ontsnap het uit die sirkus!

12.10.11

Kleure en geure

Dié was nou so mooi vir my – en dit ruik die ene basiliekruid!


Legkaart blad

Dit word nog gebou dat die biesies bewe in ons agterplaas – daar is nie meer plek vir ‘n muis nie.  Die braaikamer se blad van rib and block is op.  Heee haaa!!  ‘n Interessante konsep, dit werk soos ‘n legkaart: linthols en ander sementblokke pas inmekaar om ‘n blad te vorm. Sodra die ingenieursketse reg is sal ons sement kan gooi en gaan fase twee (kantoor en woonstel) aangepak word. 
Daar staan yslike pale die braaikamer vol wat die linthols bo hou – my beminde loop met gemak daar rond, maar ek het ‘n kollosale vrees dat die hele spulletjie op my gaan neerstort.  Hierdie tipe goed gebeur graag met my: verlede week het ek niksvermoedend pêns-en-pootjies in ‘n sloot geval.  Letterlik dan nou deur die aarde ingesluk.  

 Al die stukke pas inmekaar

11.10.11

Die groot vou

In my opinie is uitnodigings van die belangrikste trou-items: dit is ‘n voorsmakie van wat alles wag op die gaste vir die groot dag.  Na vele frustrasies met die drukkers het ek die finale produk ontvang, ‘n week en ‘n half agter skedule. 
Met die ontwerp van die kaartjie moes in ag geneem word dat die troue prettig, ontspanne en speels gaan wees, ‘n redelike uitdaging vir iemand wat deesdae net korporatiewe identiteite ontwerp. 
Die uitnodiging is gebasseer op ‘n “kwêkkie” van ouds: kies-‘n-kleur-en-‘n-nommer-dan-sê-ek-vir-jou-wat-is-jou-lot!  Baie gepas vir die geleentheid, maar helaas, daar moet 60 uitnodigings gevou word.   Ek het vanoggend een gevou en sit reeds met drie paper cuts
Oh joy! 

Trek jou dansskoene aan!

10.10.11

Dopeiers word flopeiers

Dat vroue kan multi-task is ‘n absolute mite.  
Ek kan nie middagete voorberei en ‘n deadline vir ‘n kliënt haal nie.   
Hier is die bewyse.

Flopeiers

9.10.11

Braaibroodjies

Sondaemiddae is sinoniem met braai by Fort 365.  Hoewel ons nog nie ons nuwe braaier kan gebruik nie, het my beminde ‘n staatmakerbraaier groot genoeg vir twee mense se bederf.  ‘n Sappige kruisskyf is op die kole gegooi en daarna die braaibroodjies met bladjang, uie, tamatie en kaas wat drup in die vuur en smelt in jou mond.  Ons het gesmul aan die koningskos terwyl ons gebak het in die Pretoria somerson.  
As ek my sin kon kry sou daar ten minste twee Sondae in die week gewees het.


 Koningskos

7.10.11

Doctor Zhivago

Die Oscar-bekroonde film Doctor Zhivago, met Omar Sharif en Julie Christie, is welbekend aan die publiek. Ek was bitter opgewonde toe ek ontdek dat die roman voorgeskryf is vir my studies vir hierdie semester.   
Die outeur, Boris Pasternak, het in 1959 die Nobel-prys vir Literatuur ontvang vir Doctor Zhivago, maar weens politieke omstandighede in Rusland moes hy die toekenning prysgee.
Die boek handel oor Yury Andreyevich Zhivago gedurende die Eerste Wêreldoorlog en die Russiese Rewolusie.  In die oorloggeteisterde milieu leer ken die leser Yury as ‘n saggeaarde mediese dokter wat sy dienste aan sy vaderland bied, ‘n individu opsoek na liefde en sy innerlike konflik as kunstenaar (skrywer).
Doctor Zhivago is ‘n literêre juweel wat jou persepsies oor regverdigheid en liefde sal bevraagteken.

“They loved each other greatly.  Most people experience love, without noticing that there is anything remarkable about it.  To them – and this made them unusual – the moments when passion visited their doomed human existence like a breath of timelessness were moments of revelation, of ever greater understanding of life and of themselves.”

“And when the war broke out, its real horrors, its real dangers, its menace of real death, were a blessing compared with the inhuman power of the lie.”


We wish you a merry Christmas

Ek moes vanoggend gou winkel toe gaan vir vars brood en melk, nie een van my gunsteling uitstappies nie.  Met ‘n mandjie in die een hand en handsak oor die skouer pak ek die ekspedisie met ‘n drafstap aan.
Nes ek die bakkery instap vang my oog ‘n tafel met lekkernye (ek en my beminde is beide te lief vir lekker eet, so hier faal ek dikwels).  Maar helaas – geen melkterte, kolwyntjies of beskuit in sig… kan dit wees? Vrugtekoek en Krismispoeding oordadig versier met blink sterre en blinker tinsel.  Dit is Oktober en ek probeer nog ‘n oomblik inwerk om die Lente te vier.
Trek maar jou spaarvarkie nader, die tyd vir geskenke uitdeel is aansienlik nader as wat ons gedink het.

6.10.11

'n Taai gemors

Terwyl ek besig was met ‘n geurige kerrie (van die Oriental Plaza), het ek gemeen dat perske-stukke ‘n heerlike nagereg sal wees.  Hoewel ek nie graag geblikte proviant voorsit nie, versamel ek die leë blikkies vir ons troue (ek herwin dan dus as’t ware).
Met die derde draai gly die blikoopmaker en is 3mm van die blik se deksel steeds geseël.  Die vyfde draai gebeur dieselfde.  Die begin/eindpunt kry ek nooit van mekaar geskei nie.  En hier bevind ek myself met ‘n tammelêtjie: ‘n ronde blik deskel wat plek-plek nog vas is.  
‘n Stemmetjie in my kop reken dat jy met geweld enige iets kan regkry.  Soos ek die deksel met mening in die blik inslaan sien jy net taai perskesous spat!  Daar is sous op die venster, daar is sous op die vloer, daar is sous op my gesig en tussen my tone – ek plak vas op die vloer soos ek spartel vir ‘n lap om op en af te vee…
Koo; right now you are so not the best I can do –  ek het ‘n sny op my vinger as bewys daarvoor.

5.10.11

Sizzle Sizzle

Die bouers is 07:00 op hul pos.  Kap kap kap.  Bou bou bou.  Kap kap kap. Teen 17:00 wat hulle huis toe suiker is ons flou met ‘n dowwe hoofpyn en keelseer wat slegs deur fyn stof en sement veroorsaak word. 
Maar wees nie bevrees!  Toe ek gister inspeksie gaan doen van die dag se werk, gee my hart ‘n bokspring: dit is in!  Die belofte van intieme kuiers, skaaptjoppies en braaibroodjies en ‘n vuurtjie om jou hande by warm te maak in die bitterkoue wintermaande.  

 Die braaier wat vir drie jaar in die motorhuis gestoor is.  Wat 'n blye dag!

4.10.11

Pasta à la…

As ‘n kos(maak)liefhebber durf ek dikwels nuwe konkoksies aan – maar bittermin vanaf ‘n resep.  Dit was vandag weer een van dàài dae in die kombuis.  Ek gee vir julle: Pasta à la oh-my-greatness-I-think-I’m-going-to-have-a-heart-attack-but-it-is-so-worth-it!

  • 3 handevol tricolour strikkie pasta
  • 1 ui, in ringe gesny
  • 1 eetlepel knoffel
  • 1 pakkie spek, groot stukke gesny
  • 1 pakkie swart sampioene, groot stukke gesny
  • 500ml vars room
  • Oreganum, Basiliekruid en Swart Peper na smaak
Kook die pasta tot byna sag terwyl jy die ui, knoffel, spek en sampioene braai.  Gooi dit saam in ‘n pot en voeg die room en speserye by.  Laat dit vir ongeveer 45 minute prut op ‘n lae hitte.  Bedien met fyn gerasperde kaas en paprika vir kleur.
Ons het geëet dat ons lê – not for the faint hearted.

 Pasta bederf

Mike (Ek byt jou oor af) Tyson

Ek het my muf gelag hiervoor:


3.10.11

Linthols en Brickforce

Almal het ‘n redelike idee van fondasies, bakstene en sement – gooi hierdie elemente saam met ‘n bouer en voila! jy het ‘n huisie!  
Ek het my liederlik misgis.
Na vyf weke se grondwerke is die staal gevleg en kon die fondasies vir ons aanbouings gepomp word.  Verlede week is daar eindelik met die fisiese bouwerk begin.  7000 mamparra bakstene en 5000 claret bakstene later is ons byna klaar met die braaikamer en terrasmuur (my beminde reken ons is 40% klaar  – Hoera!).  Ek kan nou met trots sê dat ek weet wat ‘n linthol, brickforce en conduit tubing is.
Ons huis is vuil en deurmekaar, daar lê grawe en pikke in die eetkamer en 12 sakke sement op die voorstoep.  Om elke hoek en draai is daar ‘n hammer of ‘n waterpyp of ‘n kragboks. 
Ek droom van die dag dat ons kan begin met die dekor!

 Trappe wat lei na ons nuwe kantoor

2.10.11

My mamsie

My moedertjie het Vrydagoggend gehoor dat sy die lank pad vanaf Stilbaai na Potchefstroom moet aanpak vir werk tydens Aardklop.  Met dié stop hulle toe ook gistermiddag in Pretoria en het ons die geleentheid gehad om ‘n vinnige kuiertjie in te werk. 
‘n Ma is ‘n fantastiese skepsel.  Die onvoorwaardelike liefde en absolute blydskap waarmee sy jou omvou het geen gelyke nie. Jy voel weer soos ‘n kind in haar arms – afhanklik van haar sagte bors, haar bekende hande en die trots in haar oë.  Jy is hare.
…Ek wens sy was net so ‘n bietjie nader…

1.10.11

Boeretroos by die Boeremark

Sedert ons kennismaking met die Boeremark by die Pionier Museum vroeër die jaar, kan ons nie die reuk van pannekoek, braaivleis en vars produkte op ‘n Saterdagoggend weerstaan nie.  Talle Pretorianers ondersteun weekliks die entrepreneurs wat nie slegs voedsel vir die ligaam verkoop nie, maar ook voedsel vir die siel bied.
Produkte wat ons graag koop sluit in: skaapribbetjies; hoenderpastei; kolwyntjies en ystervarkies; en gerookte koedoewors met kaas. Die hoogtepunt van die uitstappie bly vir my die Kahve koffie by die Koejawel stalletjie.  Nadat ek byna al die geure uitgetoets het kan ek met sekerheid sê dat die Macadamia Latté voorwaar die gunsteling is.  

Hazelnut Latté (Twee slukkies later)