29.10.12

Kaktus blom

Na ons troue het daar ongeveer 15 kaktusse oorgebly wat gaste nie huis toe geneem het nie. Hulle pronk nou op die stoep en groei 'n hond uit 'n bos uit.
Met die baie reën wat ons die laaste maand gekry het lyk ons tuin na 'n oerwoud en het een kaktus begin blom. Te pragtig!


25.10.12

Uitdaging: Dag 21

Die een-en-twintigste uitdaging van die 30 Dag Uitdaging is Iets wat jy wil hê. Ek wil hierdie Ford bakkie hê!
Ford bakkie; olie op doek.


24.10.12

Soetkoekies

Daar is gister gebak en brou soos 'n kleuterskool nie op 'n Vrydagmiddag kan nie!  Na 'n geskarrel om 'n mengbak te kry wat 2.5kg meel en 1kg suiker kan vat is daar gesif, geklits, gemeng, deeg uitgerol en koekies uitgedruk.
Ek is baie beindruk met die finale produk, maar dit proe nie soos oumie s'n nie.


21.10.12

The God of Small Things

Wat 'n pragtige verhaal! The God of Small Things deur Arundhati Roy het in 1998 die Man Booker Prize for Fiction welverdiend gewen.
Roy se styl is poëties; met meesleurende metafore, kragtige herhalings van woorde en konsepte, en 'n ritme wat die storie van 'n Indiese two-egg tweeling, Estha en Rahel, naboots.
Die roman boei die leser met temas van armoede, rasisme, die besondere band tussen 'n tweeling en die krag van die natuur.
Definitief aan te beveel.

“Perhaps it's true that things can change in a day. That a few dozen hours can affect the outcome of whole lifetimes. And that when they do, those few dozen hours, like the salvaged remains of a burned house - the charred clock, the singed photograph, the scorched furniture - must be resurrected from the ruins and examined. Preserved. Accounted for. Little events, ordinary things, smashed and reconstituted. Imbued with new meaning. Suddenly they become the bleached bones of a story.” 


14.10.12

Duiwelskloof

Ek was so teleurgesteld in André P. Brink se Duiwelskloof.
Brink is een van Suid-Afrika se voorste skrywers, maar sy skryfstyl en taalgebruik in hierdie roman laat veel te wense. Die storielyn van 'n afgeleë dorpie waar inteling hooggety vier en hul verlede op meer as een manier by hul spook, het my nie geboei nie.
In my opinie sou hierdie 'n beter draaiboek vir 'n film wees en sou grimeerkunstenaars hul werk vir hul uitgeknip hê. So aan alle voornemende regisseurs: hier is jul kans!


11.10.12

Tuisgemaakte pizza

Dankie aan my heavy wat bereid was om hierdie wenresep te deel!

1 teelepel gis
1 teelepel sout
2 teelepels suiker
75ml louwarm water
2 koppies koekmeel

Meng gis, sout, suiker en water in 'n koppie en laat staan vir 5 minute. Gooi watermengsel by koekmeel en meng goed. Laat deeg staan vir 30 minute. Rol deeg uit, steek 'n paar gaatjies met 'n vurk in en pak dit vol lekkernye. Bak in die oond teen 220 grade vir 10 minute. Deeg maak twee groot pizzas.

My pizza: bietjie blatjang en maaskaas gesmeer op die deeg, salami, sampioene, pesto, knoffel, bloukaas, cheddar en mozzarella.  Dis die volgende dag nog heerlik!

*Mr Price Home verkoop allemintige pizzapanne.


8.10.12

Uitdaging: Dag 24

Soos dit enige kunstenaar betaam steur ek my nie veel aan reëls nie. Hoekom moet 6 op 5 volg in elk geval?
Hier is die 24ste uitdaging - of dan nou die 7de uitdaging wat ek aanpak - van die 30 Dag Uitdaging; A couple (Olie op doek)


7.10.12

Ciao Italia!

'n Heerlike kuiertjie; Italian style! Julius Caesar, Albert Einstein en 'n Italiaanse sokkerspeler was van dié wat teenwoordig was. En ek kon nie anders as om aan te trek as die Mona Lisa nie.

Voorgereg: Focacia met songedroogte tamaties en pesto
Hoofgereg: Spaghetti en meatyballs
Nagereg: Italian kisses





3.10.12

Ligboks

Daar word elke Saterdag hard gewerk om ons nessie op te kikker. Plaveisel is gelê, 'n behoorlike wasgoedlyn is opgerig, die badkamer se plafon is in en my beminde is op die hond se stert met die elektrisiteit vir die nuwe toevoeging tot ons huis.
Dit is als puik, maar as 'n vrou is dit die dekor wat my hart laat bokspring! Twee stelle skroewe en 'n skewe boor later pronk hierdie Coca-Cola ligboks in ons braaikamer!


2.10.12

The Poisonwood Bible

Wow! Dis nie elke dag dat ek 'n boek lees wat my denkwyse en emosies laat bommelakisie slaan nie!
Barbara Kingsolver se The Poisonwood Bible het juis dít gedoen en meer.
'n Amerikaanse sendeling met sy vrou en vier dogters vaar die Kongo in, maar het geen idee watter uitdagings - om dit ligtelik te stel - vir hulle wag nie. Geen elektrisiteit, geen lopende water en die aanhoudende soeke na kos, is van die basisie probleme wat hul daagliks in die oë staar.
Die outeur het intieme historiese navorsing gedoen en daar is deurlopend verwysings na die politieke welstand van die land, met 'n blik na Patrice Lumumba se kortstondige demokrasie sowel as die diktatorskap van Mobutu Sese Seko.
The Poisonwood Bible is beslis die beste boek wat ek hierdie jaar gelees het.  En die vreemde titel? Die antwoord daarvan is teen die einde van die roman bekend.
Briljant! Vyf sterre!

“Don’t try to make life a mathematics problem with yourself in the center and everything coming out equal. When you’re good, bad things can still happen. And if you’re bad, you can still be lucky.”  

“I’ve seen how you can’t learn anything when you’re trying to look like the smartest person in the room.” 

“The power is in the balance: we are our injuries, as much as we are our successes.”