30.7.12

'n Pawpaw vir my Darling

Damnville. Wôterkloof. Inflamasieheuwel. En die Taspoorttonnel.
Jeanne Goosen vang die lewe van 'n tipiese gesin woonagtig in "Damnville" vas deur die oë van hul brakkie, Tsjaka, in 'n Pawpaw vir my Darling.
Die verhaal is komies, hartseer en laat jou meeste van die tyd jou kop sak in skaamte oor die dinge wat mense in dié woonbuurt aanvang. Dit laat jou opnuut besef dat hoewel ons nie veronderstel is om ander te oordeel nie, ons gevolgtrekkings maak en te dikwels stereotipeer.

"Dis amper tyd vir Mabel om weer haar Loslyf by die café op die hoek te gaan haal.  Wanneer sy daai wielhek ooptik, sal ek haar aan die een bunion beetkry, die een langs die tossel van haar carpet slipper."


29.7.12

20th Century Masters

Die Standard Bank Kunsgalery se huidige uitstalling 20th Century Masters - The Human Figure is voorwaar enige kunsliefhebber se droom.
Die galery bied 'n unieke geleentheid aan Suid-Afrikaners om ikoniese werke deur kritiese kunstenaars van die evolusie van moderne kuns, te sien.
Van die kunstenaars wat se werke uitgestal word sluit in Pablo Picasso, Francis Bacon, Eduard Manet, Auguste Renoir, Edgar Degas en een van my gunstelinge: George Rouault.
Die uitstalling is tot 15 September 2012 - jy sal nie spyt wees nie.

Young woman in white, red background (1946) - Henri Matisse

26.7.12

A Moveable Feast

My eerste indruk van Ernest Hemingway is baie goed. Dié man kon skryf.
In sy autobiografiese vertellings van Parys in die 1920's in A Moveable Feast, is Hemingway satiries en soms uitdagend teenoor die bekendes wat hy ontmoet het. Sy vriendskap met die welbekende Gertrude Stein en F. Scott Fitzgerald was die bron van vele inspirasie en frustrasie.
Selfs met sy liefde vir drank en dobbel en sy kort humeur dink ek Hem, soos sy vriende hom genoem het, was 'n merkwaardige mens en 'n vriend duisend.

“As I ate the oysters with their strong taste of the sea and their faint metallic taste that the cold white wine washed away, leaving only the sea taste and the succulent texture, and as I drank their cold liquid from each shell and washed it down with the crisp taste of the wine, I lost the empty feeling and began to be happy and to make plans.”

77 Date Ideas

Ek het afgekom op 'n artikel met 77 prettige dinge om saam jou beminde te doen. 
Hier is 'n paar van my gunstelinge:
  • Read your favorite books to one another
  • Go for a long drive
  • Play board games
  • Attend a farmer’s market
Gaan kyk gerus na die ander idees hier.

24.7.12

Lilliput koekies

Ons is vreeslik bederf met soetkoekies van Lilliput Coffee Shop in Stilbaai.
Die verpakking is pragtig en daar is verskeie boodskappe daaraan geheg - perfek vir enige geleentheid.
Of jy die koekies saam met koffie, tee of sommer net so geniet, dis 'n lafenis na 'n lang dag voor die rekenaar!


23.7.12

A Widow for One Year

A Widow for One Year deur John Irving handel oor die skrywer Ruth Cole. Die boek is in drie dele verdeel en speel af oor 36 jaar. Die eerste derde beskryf die gebeure van Ruth se ouers - haar pa 'n beroemde kinderboekskrywer en rokkejagter, en haar ma se verhouding met 'n sestienjarige seun. Die tweede deel is 'n vertelling van Ruth se navorsing in Amsterdam en hoe haar lewe onherroeplik verander na sy 'n ooggetuie van 'n angswekkende moord is. Die laaste deel van die boek is in my opinie afgewater en soetsappig - Ruth raak verlief op 'n Hollander na sy 'n weduwee vir een jaar is.
In totaal is die verhaal glad nie sleg nie - maar Irving het 'n manier om jou as leser te laat dom voel. Die skrywer laat niks oor aan die verbeelding nie, daar is geen teken van misterie nie - alles word letterlik vir jou uitgespel.
Die eerste deel van die boek is in 2004 verfilm met die titel The Door in the Floor met Kim Basinger en Jeff Bridges.  Kyk eerder die fliek.


“What greater thing is there for two human souls, than to feel that they are joined for life - to strengthen each other in all labor, to rest on each other in all sorrow, to minister to each other in all pain, to be one with each other in silent unspeakable memories at the moment of the last parting?” 

22.7.12

Burger Bistro

Ons is mal oor burgers, veral as jy die ligte moet afsit as jy dit eet (weens die sous wat teen jou gesig afloop).
Daar het 'n klipgooi van ons huis 'n Burger Bistro oopgemaak, en dié nuwe burgers moes probeer word.  Die spyskaart is indrukwekkend en sluit 'n verskeidenheid eksotiese kombinasies in: Romerige bloukaassous met roket; Emmentaler kaas met jalapeno sous; Grondboontjiebottersous met spek; Brie met aarbeie, balsamiese asyn en swart peper en vele meer.
Ek het laasgenoemde gekies en kan dit aanbeveel vir enige een met 'n sin vir avontuur.


15.7.12

Only in America

Ons tweede Around the World aksie het 'n Amerikaanse tema gehad en die gasheer en -vrou het uitgehaal en gewys! Die kouefront het my weerhou om all out te gaan met my Pocahontas uitrusting, maar my beminde het allemintig gelyk met sy too-cool-for-school-look. Daar is vreeslik baie moeite gedoen met die kos, dit was pragtig om na te kyk en so heerlik dat ek 3 keer gaan skep het!

Voorgereg: Mini pizza
Hoofgereg: Mini hamburgers, Mini hotdogs, slap tjips en diepgebraaide hoender
Nagereg: Sjokolade mousse (nie jou standaard nagereg nie: net room en sjokolade!)




10.7.12

Wat 'n gemors!

Hartbeespoortdam is sinoniem met luilekker dae langs die viswaters, visuele kunste en piekniek saam met familie en vriende. Menigte mense droom van 'n huisie langs dié dam en daarom skiet nuwe ontwikkelings blitsvinnig op.
Ons het gaan loer na 'n paar van die areas wat uitgesit is vir nuwe ontwikkelings en het met 'n skok agtergekom dat dele van dié idiliese dorp (soos baie ander in ons sonnige land) as ashoop dien vir baie inwoners.
In my opinie kom dit neer op 'n tekort aan trots. Almal wil tog in 'n mooi omgewing bly. Wat besiel mense om so vuil te wees? Is daar dan nie dienste beskikbaar hiervoor nie?



9.7.12

Ek herhaal jou

Ek herhaal jou - Ingrid Jonker

Ek herhaal jou
sonder begin of einde
herhaal ek jou liggaam
Die dag het 'n smal skadu
en nag geel kruise
die land sonder aansien
en die mense 'n ry kerse
terwyl ek jou herhaal
met my borste
wat die holtes van jou hande namaak

5.7.12

The Catcher in the Rye

Ek dreig al vir jare om The Catcher in the Rye van JD Salinger te lees.  
Hoewel die eerste kwart van die boek my benoud gehad het (ek het begin dink dat ek te veel verwag het van hierdie welbekende novelle), het ek teen die laaste bladsy besef dat dit inderdaad een van die heel beste boeke is wat ek tot dusver gelees het.
Die storie is eenvoudig met 'n enkele hoofkarakter: Holden Caulfield.  Sy avonture in New York word op 'n siniese wyse oorgedra - die sarkasme en oordrewenheid van die vertellings laat mens stom. 
Dit is moeilik om te glo dat die boek in 1951 gepubliseer is. Met al die ontwikkeling en tegnologie sedert die 50's is dit tog duidelik dat die menslike psige nog presies dieselfde en universieël is.
As jy net een boek in jou lewe lees moet The Catcher in the Rye beslis op jou kortlys wees.

“What really knocks me out is a book that, when you're all done reading it, you wish the author that wrote it was a terrific friend of yours and you could call him up on the phone whenever you felt like it. That doesn't happen much, though.”

3.7.12

Lephalale (Ellisras)

Ek was nog nooit in Limpopo provinsie nie, so toe die geleentheid hom aandoen dat my beminde moes deurskiet Lephalale toe was ek in die motortjie voor jy kon sê mes.
Nie een van ons was seker hoe ver presies ons sou ry nie, want Google Maps en ons GPS se tye het met 'n uur verskil.  Koue vleis, driehoekkasies en hardgekookte eiers was dus aan die orde van die dag.
Dit het ons net minder as vier ure geneem om die 282km tog te voltooi. Die rede hiervoor: padwerke, en baie daarvan.  Ons is deur omtrent sewe stop-and-goes met 'n wagperiode van 30 minute. Ons was gelukkig om nie so lank te wag nie, maar dit bly 'n hindernis.
Die omgewing is asemrowend. Selfs nou in die Julie begin groen gras voelers uitsteek en perskebome pragtig pienk bot. Nie dat dit voel of dit kan winter raak daar nie, dit was 'n kokende 27 grade.
Ek sien myself beslis nie as 'n inwoner van Limpopo nie, maar sal beslis 'n poging aanwend om 'n wegbreek naweek te reël - ek kan my net indink hoe pragtig dit in die somer sal wees.