26.4.12

Of Mice and Men

Hoewel dit vir my eerder na ‘n kortverhaal as ‘n boek gevoel het, was Of Mice and Men ‘n roerende vertelling van vriendskap: dit bied een van daardie etiese vrae wat jou altyd sal laat wonder wat jy in so ‘n situasie sou doen.
Die twee vriende, George en Lennie, is uiteenlopende karakters – en hoewel George jou aan die begin herinner aan ‘n boelie, word hy ‘n gunsteling.
Dit is die derde John Steinbeck wat ek lees; East of Eden is volgens my sy beste boek.   
Hy is voorwaar ‘n fantastiese skrywer wat in 1962 die Nobel Literature Prize gewen het.

“Maybe ever’body in the whole damn world is scared of each other.”

“As happens sometimes, a moment settled and hovered and remained for much more than a moment. And sound stopped and movement stopped for much, much more than a moment.”


Use it


25.4.12

Geroomde Broccolisop

Hierdie resep het my al vele komplimente besorg en dis heerlik op ‘n mistroostige wintersaand.

50g margarien
500g broccoli – breek in stukkies
1 ui fyngekap
5ml vars knoffel
3 eetlepels koekmeel
1 liter hoenderekstrak
250ml melk
1ml gemaalde neut
Gemaalde swartpeper
250ml room
45ml medium sjerrie
200g fetakaas gekrummel

Smelt botter, voeg broccoli by met ui en knoffel.  Bedek en laat sweet vir 10min.  Voeg nou meel, ekstrak, melk, neut en peper by.  Sit hitte laer en prut vir 15 – 20min. totdat groente sag is.  Puree deur ‘n menger of growwe sif en gooi terug in pot.  Voeg room, sjerrie en kaas by.


Tannie Bettie is 'n gil!


24.4.12

Legkaart ... alweer

It’s official.  We’re addicted.
Ons kan nie ophou legkaarte bou nie.  Dis belaglik: as ek wag vir die ketel om te kook probeer ek ‘n stukkie inkry, as ek verby die eetkamer loop oppad sitkamer toe moet ek eers stop en kyk of daar iets is wat pas… Glo my, hierdie is ‘n volwaardige verslawing. 
Daar wag ‘n nuwe legkaart in die kas, maar ek is bevrees as dit eers oopgemaak word is daar geen keer nie!



23.4.12

Anna Karenina

Om ‘n Tolstoy te lees was nog altyd op my to-do-list, en uiteindelik kan ek dit afmerk.
Anna Karenina is ‘n intimiderende en uitdagende boek met 806 bladsye, tog is LeoTolstoy se skryfstyl meer gerig op die man op straat as wat ek verwag het.
Die hoofkarakter, Anna, het my glad nie beindruk nie – haar morele waardes laat veel te wense en sy gebruik haar skoonheid om te kry wat sy wil hê in die lewe.  Ek was baie meer verlei deur die karakters Constantine Dmitrich Levin en Catherine Alexandrovna, wat die temas van liefde en geloof ondersoek.

“For some time he could not say anything, not so much because he feared that words might spoil the loftiness of his feelings, as because every time he wished to speak he felt that, instead of words, tears of joy would come.  He took her hand and kissed it.”


Pizza Dog

Na Smalldog gesmul het aan ‘n stukkie hoender en sampioen pizza het sy gereken die boks maak ‘n aangename huisie!  Ek wou haar opvreet!


Plantrakkie

Die naweek is daar weer so geverf dat my beminde net moes keer of ek kry als wat ek sien met ‘n verfkwas by! 
Ek het ‘n ou plantrakkie langs die huis opgespoor wat na my mening mooi by die tuinbankie sal pas as dit wit is.  Die rakkie pronk nou ook op die stoep en lyk te pragtig met die paar kaktusse daarop.


17.4.12

Mandi Scholtz Photography

Ek ontwerp relatief baie websites vir verskeie entrepreneurs en maatskappye, maar die een van Mandi Scholtz Photography was ‘n plesier om aan te werk.
As kunstenaar is dit makliker om iets te ontwerp as die rou materiaal mooi is – en die fotografie van Mandi Scholtz is asemrowend.  Sy het ‘n persoonlike invalshoek wat die foto’s nie slegs esteties aanloklik laat nie, maar ook ‘n emosionele gevoel gee.
Besoek gerus die Mandi Scholtz Photography website asook die blog.




16.4.12

Hamburgers

Maandae is aaklig.  Dis ‘n vreesaanjaende aanpassing om weer aan die werk te kom, en soos dit maar is met Maandae loop als wat beplan is skeef.
As troosprys is daar Maandae aande 'n special op ons gunsteling hamburgers by Brewers.  
Die feit dat ek nie voor die kospotte hoef te staan nie en dat daar gesmul kan word aan slaptjips en 'n burger met meer sous as wat jy jou kan indink, is voorwaar iets om na uit te sien.  


Houtbankie

Ons het onlangs ‘n tweedehandse houtbankie opgetel wat ideaal is vir ons stoep wat uit die braaikamer loop.  
My beminde het met ‘n gestoei die stoep wat ‘n maand terug net grond was, plavei – so nou is dit net vir afrondingswerk.  
Die rooibruin bankie spog nou met 'n nuwe spierwit laag verf wat saam met ‘n paar potplante die stoep vars en welkom laat.  
As ek net die verf van my hande kan afkry...


15.4.12

Legkaart

Met die wintermaande wat suutjies nader kruip probeer ons maniere vind om onsself binnenshuis besig te hou. 
Dié naweek se aktiwiteit was legkaartbou.
Legkaarte is in my opinie vreeslik terapeuties; dit toets jou deursettingsvermoë en frustrasievlakke daal.  Die eindproduk laat jou met ‘n gevoel van trots, maar maak jou ook half hartseer – want nou wat?


12.4.12

Buurtwag

Die boewe is oral en daar kan nie altyd van die polisie verwag word om misdaad te beveg nie.  Ons as ‘n gemeenskap moet ons deel doen om ons buurte veilig te hou.
Gewapen met ‘n tweerigtingradio en ‘n flits word daar nou om die beurt gepatrolleer hier in die Kunshoofstad van Pretoria. 
Dit is verseker ‘n ontwrigting om laatnag in die koue uit te gaan – maar statistieke bewys dat dit wel ‘n verskil maak.  
‘n Buurt met geen dwelmmisbruik en –verkope, vandalisme en inbrake is idilies maar is beslis iets waarna ons streef.

11.4.12

Wannabe verkoue

Met die seisoene wat verander is dit seker te verstane dat mens vatbaar vir verkoue en griep sal wees.
Die probleem wat ek tans ondervind is dat die simptome hul koppe uitsteek maar nie wil oorgaan in aksie nie.
My neus is toe – tog loop hy, my keel is krapperig en ek het hoofpyn, waarskynlik van die sinuskanale wat geblok is.  Maar ek voel nie sleg genoeg om te verklaar dat dit verkoue is en ek met ‘n koppie MedLemon in die bed kan gaan lê nie.  
Die simptome is op hierdie stadium net ‘n irritasie … en die hele huis lê vol gevrommelde snesies.

10.4.12

Aandete

Skaaptjoppies met NOMU speserye, suurroom- en grasspruitaartappels, geroosterde broccoli met Meditereense kruie, gekarameliseerde wortels en lemoenpampoentjies gevul met geroomde mielies en kaas.
Lekker!

Persoonlike inkopies

Ek hou van ‘n slaghuis – veral die een in Soutpansbergweg hier naby ons nessie.  Die vriendelike diens; ons is al op naambasis – die slagter heet WP en ja, hy is ‘n Stormer, en die feit dat jy vleis oor die toonbank bestel wat dáár in gereedheid gebring word laat my voel of ek in die vorige eeu leef.
Ek het ook ‘n draai by die groentewinkel gemaak – en die kassier herken my ook nou as ‘n gereelde kliënt.
Soveel mense hardloop by Woolworths of Pick & Pay in om al die kruideniers op te tel.  Dit is wel vreeslik gerieflik, maar die menslike faktor van inkopies verdwyn. 
Kom ons ondersteun die eenmansake in ons omgewing.  Al wat hier by ons kort is ‘n bakkery; miskien moet ek dit as ‘n besigheidsgeleentheid sien…

4.4.12

Aartappel en spek sop

Dié geurige aartappel en spek sop het my beminde in die verlede voorgesit en is waarskynlik die rede waarom ons teen die einde van die winter nie in ons klere kon pas nie.
Met die koue wat ons onverhoeds betrap het, het ek besluit dit is weer súlke tyd!

1 ui, fyngekap
1 pakkie spek, in stukkies gesny
1 teelepel knoffel
5 aartappels, in kwarte gesny
1 liter hoenderaftreksel
1 koppie melk
1 wiggie feta
Tiemie
Swartpeper
*Feta en melk kan vervang word met room

Braai ui, spek en knoffel tot bruin.  Voeg aartappels en hoenderaftreksel by en laat kook vir ‘n halfuur.  Gooi melk by en laat prut vir ‘n uur terwyl jy gereeld roer.  Druk aartappels fyn en roer deeglik sodat die aartappels nie aan die bodem van die pot vassit nie.  Breek feta in en gooi tiemie en swartpeper by na smaak.  Moenie sout byvoeg nie, die spek en feta maak die sop reeds sout.  Laat sop prut vir ongeveer 2ure. Bedien met tuisgebakte brood (hierdie gaan ek nog poog in die nabye toekoms).

2.4.12

Ballerina

"A picture is worth a thousand words." - Napoleon Bonaparte


Hoe ryk is jy?

Ek het gister toevallig op ‘n interessante website afgekom wat uitwerk waar jy jouself op die ranglys van rykes kan bevind. 
Ek het geen idee hoe akkuraat dit is nie, en daar is ‘n plek wat jy geld kan skenk – so dit mag dalk ‘n scam wees. 
Ten spyte hiervan het dit my opnuut laat besef hoeveel ons het om voor dankbaar te wees en die skokkende getal te sien van mense wat absoluut niks het nie.
Gaan loer gerus na GlobalRichList.