30.12.11

Wallpaper Januarie 2012

Smashing Magazine se Januarie wallpaper

Tasha's

Ek en my vriendin het ‘n heerlike kuiertjie ingewerk en middagete geniet by die sjiek Tasha’s in Brooklyn. 
Die spyskaart is onkonvensioneel met eksperimentele disse en die atmosfeer herinner aan ‘n straatkafee in New York.  Ek het soos ‘n regte yuppie gevoel – kompleet met ‘n Hazelnut Macchiato in die hand. 


29.12.11

The Rapture

Slapende Skoonheid

Almal in Fort 365 word ontwrig deur die bouery.
Ons moes vir ‘n tweede keer ons kamer ontruim, die keer vir pleisterwerk.  Mabena en span is besig om hulself goed van hul taak te kwyt met die Rhinolite, maar ons vloer lyk soos Pole na die Tweede Wêreldoorlog.
Kleinbrak moes ook haar lêplekkie prysgee, en moet die studeerkamer vir eers “huis” noem.  Dit lyk darem of sy steeds rustig slaap deur die chaos wat hier heers.


28.12.11

Die pienk kas

My eerste verfprojek was ‘n sukses!
'n Vaal kas het 'n make-over ondergaan met slegs 'n bietjie verf, skuurpapier, vernis en baie geduld.  Indien jy 'n soortgelyke projek wil aanpak moet jy besef dat dit nie in een dag afgehandel kan word nie, maar die eindproduk maak dit die moeite werd.

Let wel: Moenie hout verf nie, dit is kosbaar. Probeer eerder ‘n meubelstuk van saamgeperste hout of ‘n ander materiaal.

 Kas - voor die tyd

Kas - hoe dit nou lyk

27.12.11

Sjokoladekoekies

Die eerste resep van die Kook & Geniet wat ek uitgetoets het – en dit is vingerlek-lekker!

1 x koppie margarien
2 x koppies suiker
½ x koppie kakao
½ x koppie melk
3 x koppies hawermout
1 x koppie droeë klapper
½ x teelepel vanieljegeursel

Roer die eerste vier bestandele oor ‘n matige hitte tot die suiker opgelos het. Roer dan die orige bestandele by. Drup lepels vol op ‘n gesmeerde bakplaat.  Laat goed afkoel.


25.12.11

Kook en Geniet

Kersdag was ‘n fees!
Een van die hoogtepunte was die geskenk wat ek van my beminde ontvang het – watch out Julia Child!


23.12.11

Hy pleister soos 'n yster

Binne drie dae het Mabena ‘n derde van die pleisterwerk voltooi – so reguit dit intimideer ‘n waterpas.
Ek raak nou bitter opgewonde - ek het Dulux kleurkaarte begin versamel wat ek met groot ywer bestudeer.
Min dae…

22.12.11

Skaapboud

Die idee is om Kersdag ‘n feesmaal voor te berei wat bestaan uit skaapboud en aartappels, groenboontjies, pampoen en broccoli en blomkool in ‘n witsous met kaas.  Vir nagereg sal ons smul aan ‘n souserige sjokoladepoeding met room.
Dit klink al te heerlik, maar my planne word in die wiele gery.  Ek kry nie skaapboud nie: slaghuise in en uit sonder enige sukses.  Ek het vroeër ons kontak by die boeremark gebel om te hoor of hy hulp kan verleen, maar helaas.
Hoender is nou maar net nie ‘n goeie genoeg plaasvervanger nie.  

Christmas Shopping

WAARSKUWING: Vermy die winkels in Pretoria-omgewing ten alle koste.
  • Geen parkering is beskikbaar nie.
  • Die publiek se diere-instink is duidelik sigbaar in die stamp en stoot om voor uit te kom
  • Die rakke is leeg
  • Werkers is onbehulpsaam en uitgemergel
  • Dit vat ‘n ewigheid om met ‘n paar sakkies huis toe te suiker

20.12.11

Hoender en perske bredie

500g x Hoenderborsies
1 x Ui
1 x Red Pepper
1 x Blikkie Perskes
1 x Koppie Water
1 x Pakkie Knorr Stew Granules
Paprika
Tiemie

Braai ui, red pepper en blokkies hoender en voeg paprika en tiemie by.  Gooi water en die sous van die perskes by en roer totdat die kook.  Voeg perskes en pakkie stew granules by.  Roer gereeld.  Laat dit prut vir ongeveer 20 minute.  Bedien saam met rys.


Ordinary Thunderstorms

Ek het die fout gemaak om twee boeke van dieselfde genre na mekaar te lees.  Met gevolg het Ordinary Thunderstorms deur welbekende en bekroonde outeur William Boyd my aanvanklik nie geboei nie.
Alhoewel, hoe verder ek gelees het, hoe beter het die storielyn geword. 
Die hoofkarakter, Adam Kindred, ervaar ‘n 360° omwenteling nadat hy op ‘n moordtoneel afkom.  Daar word ook interessante kommentaar gelewer op big business – in dié geval die farmaseutiese wêreld. 
Dit is die moeite werd om die boek enduit te lees, daar wag ‘n verrassing met betrekking tot die antagonis.


18.12.11

Van trou tot rugby

Die naweek was bedrywig met 3 verjaardagpartytjies en ‘n Kerspiekniek – ons is flou!
Ons het wel interessante mense ontmoet: onder andere ‘n jong paartjie wat September 2012 trou. 
Nie ‘n oomblik se stilte van Mnr. en (soon to be) Mev. X nie.  Ons ken elke aspek van hulle naweektroue in die fynste besonderhede.
Toe die tweetjies aangaan oor Bloubul- en WP-rugby het ek en my beminde net gesug en verduidelik dat ons nie sportaanhangers is nie.
Mnr. X vra toe vreeslik bekommerd: “Nou wat is julle belangstellings?”
Ons was uitgeboul. Volgens sekere mense het jy geen lewe sonder rugby nie.

12.12.11

Dakbalke

My beminde lyk soos iets wat hoort in die Knysnabos met al die houtsaagsels wat vasklou aan sy lyf; as’t ware ‘n Outeniqua Geelhout in wording.
Met die hulp van sy broeder is daar Saterdag planne beraam en gewerskaf van sonsopkoms tot biersondergang.
Vandag is daar tot dusver geen teken van die bier nie, maar daar word getimmer en geboor en gekap aan die dakbalke met die wete dat die dae min is.


11.12.11

Gevulde Calamari Tubes

1 x koppie rys
1 x blikkie mossels
1 x fyngekapte ui
2 x fyngekapte appelkose
10 x calamari tubes

Kook rys en meng met mossels, ui en appelkose.  Vul die calamari tubes en gebruik tandestokkie om te verseker dat vulsel nie uitglip.  Braai calamari tot gaar.  Bedien met verskeidenheid souse.


7.12.11

Pinterest

Social Networking websites het die wêreld oorgeneem: Facebook, Twitter, Digg, Stumble Upon, Google +, Flickr en nog baie meer!
Ek vermoed ek het egter op die beste een afgekom: Pinterest.
Dié website is gebasseer op die visuele, eerder as op geskrewe inligting, wat natuurlik ure se kykgenot tot gevolg kan hê.  Inspirasie vir letterlik enige iets van hekelpatrone tot haardosse is te vinde.
Maar wees gewaarsku, hierdie kan ‘n tydrowende stokperdjie word en soos alle social networks is dit verslawend.

6.12.11

Trourok

Die eerste stap van die trourok is geneem.
Ek en my bekwame rokmaakster is winkel in en winkel uit en het eindelik die perfekte lap gekry.  Die patroon is opgetrek en ek is gemeet van my kroontjie tot my toontjie.
Met twee en ‘n half maande om te gaan tot die troue is dit seker ook nie ‘n oomblik te gou nie.
Nou die groot soektog na skoene…

5.12.11

The Girl Who Played With Fire

Die tweede boek in die Millennium-reeks deur Stieg Larsson, The Girl Who Played With Fire, verbeeld ‘n intrige met dieselfde karakters as The Girl With The Dragon Tattoo.
Dié keer val die klem nie slegs op moord nie, maar ook op ‘n ander misdaad wat in die ondergrond van Swede plaasvind: seksmisdrywe.
Salander is in die middel van hierdie bedrywighede vasgekeer met slegs Blomkvist om haar te help, om as’t ware sy skuld by haar te vereffen.
Die boek steek wel ‘n bietjie af teenoor die eerste een in die reeks in die sin dat dit baie lank vat voordat jy geboei is, maar dit is steeds die 569 bladsye die moeite werd.