28.11.12

The Shipping News

The Shipping News deur Annie Proulx is soos die Engelse sal sê "a breath of fresh air" en 'n tipiese voorbeeld waar die film - met Kevin Spacey, Julianne Moore en Judy Dench - die boek nie tot sy reg bring nie.
Die storie is menslik met fokus op beide goeie en slegte dinge wat in 'n leeftyd met mens gebeur. Proulx skryf die verhaal in kort, bonkige sinne wat elke gebeurtenis en idee beklemtoon.  Die hoofkarakter, Quoyle, is 'n joernalis en die outeur gebruik dit slim deur deurentyd opgemaakte koerantopskrifte van sy lewe voor te lê.
Beslis nie 'n boek wat jy rustig op die strand gaan lees nie: dit speel af op 'n eiland met skokkende gebeure op die see en in die omgewing.

“And it may be that love sometimes occurs without pain or misery.” 

“A spinning coin, still balanced on its rim, may fall in either direction.”  

“We're all strange inside. We learn how to disguise our differences as we grow up.” 

27.11.12

Dinsdagaand braai

Mens val so maklik vas in roetine.  Staan op, drink koffie, werk, maak kos en eet, lees 'n boek en gaan slaap.  Dag in en dag uit.
Ons het gisteraand heel spontaan 'n vuurtjie aangesteek en rustig met 'n glasie Iron Brew gekuier. Te heerlik vir woorde - braaivleis in die middel van die week!


21.11.12

Uitdaging: Dag 6

Dag 6 van die 30 Dag Uitdaging vereis dat jy 'n karakter uit 'n boek - wat nie verfilm is nie - teken.  Hier is my weergawe van Big Brother uit George Orwell se 1984.

19.11.12

Skaapvel skoene

Dit is 'n gemors om skoene te kry.  En dit lyk of alles deesdae van plastiek gemaak word.
Ek het op hierdie pragtige handgemaakte skaapvel skoene afgekom; dit is stylvol en lyk so gemaklik!
Gaan kliek gerus hier om na die res van Chébran se reeks te kyk.


18.11.12

Spud: Exit, Pursued by a Bear

Ek was half tranerig na ek gisteraand die laaste boek in die Spud-reeks deur John van de Ruit klaar gelees het.
Spud: Exit, Pursued by a Bear bring die reeks tot 'n einde op 'n hoë noot. Hoewel die boek in 'n dagboekvorm voortgebring word, skryf die outeur dit dat die leser elkeen van die Crazy Eight, onderwysers, ouers en meisies persoonlik leer ken. 
Van de Ruit het hom goed van sy taak gekwyt; en ek gaan Spud se avonture as skoolseun waarskynlik meer mis as my eie.


15.11.12

Anja se Teetuin

Ek en my swaer se dogtertjie het soos twee madams gaan kuier by Anja se Teetuin in Lynnwood. Wat 'n heerlike wegbreek van die week se bekommernisse en gejaag!
'n See van pers in die vorm van Jakarandabome en Bougainvilla's het die rustige atmosfeer geskep en is afgerond met pragtige porselein en eetgerei.
Ons het gesmul aan cappuccino's, vars botterbroodjies met moerbeikonfyt en room en 'n allemintige aarbei-en-rooibos ystee om die dag se hitte te breek.
Die teetuin is ideaal vir kombuis- of babatees of om 'n boek sonder steurings onder die koeltebome te lees.


13.11.12

Latynse Reise

André P. Brink se uitmuntende reisbeskrywings van Frankryk, Italië, Spanje en Portugal word in die bundel Latynse Reise saamgevat.
Brink se vermoë om plekke, mense en situasies te beskryf is eiesoortig; dit laat die leser voel of hy langs die outeur gestap het deur die strate van Venesië, self ook die plomp herbergier in Arles ontmoet het en in die pawiljoen gesit het tydens 'n bulgeveg in die Plaza de Toros.
As jy hierdie feesseisoen met Jan-tuisbly-se-karretjie ry; verdwaal saam met Brink deur die strate van Europa!

"Die Minho is pragtig en een van die mees romantiese streke wat mens jou kan indink: 'n malse skoonheid, 'n weligheid, 'n oordaad in die natuur, 'n borrelende blydskap in die mense.  Maar die skoonheid van Tras-os-Montes is anders: dit lê dieper, dit is grootser en stugger, 'n sierlose skoonheid waarin die anatomie van die aarde ontbloot is en waar jy jou skrikwekkend na aan die wesenlike momente van tyd en duur, geboorte en liefde en dood voel."


12.11.12

Incredible India

Ons het soveel pret gehad met die opdress van ons Around the World aksie: Incredible India.  Ons gaste het selfs uitrustings gehad wat in die ooste gekoop is!

Voorgereg: Samoosas
Hoofgereg: Hoenderkerrie met roti en naan
Nagereg: Mango en gemmer sorbet


7.11.12

Life of Pi

Birdsong

Sebastian Faulks se Birdsong is 'n epiese verhaal wat afspeel in Frankryk voor en gedurende die Eerste Wêreldoorlog.
Aanvanklik word die tema van verbode liefde verken, maar die gruwels van die oorlog oorskadu die boek heeltemal.  Oorlewingsinstink, verhoudings wat gebind word tussen soldate en dood speel 'n groot rol en dit is moeilik om te fokus op die ander, meer positiewe deel van die boek wat in 1978 afspeel.
Faulks is 'n beskrywende outeur, maar in my opinie moes daar 'n groter balans tussen storielyne gewees het.

“He threw up the conkers into the air in his great happiness. In the tree above him they disturbed a roosting crow, which erupted from the branches with an explosive bang of its wings, then rose up above him towards the sky, its harsh, ambiguous call coming back in long, grating waves towards the earth, to be heard by those still living.”

5.11.12

Braai in die parkie

Na 'n lang winter en 'n lente met sporadiese donderstorms het die seisoen van luilekker dae in die son aangebreek - en ons gryp dit met albei hande aan!
Kleinbrak het haar gate uit geniet en 'n modderpoel gesoek om in af te koel (tot my beminde se frustrasie wat haar daarna moes was).  Ons het gesmul aan 'n stukkie vleis en 'n kaas-en-uie-broodjie wyl ons in die son gebak het en gegiggel het vir die ander besoekers met sonsambrele; daar is tog koeltebome om teen die verwoede son te beskerm!
Maar soos dit nou maar gaan na die eerste kuiertjie in die son, is ek nou fifty shades of red.


1.11.12

Agterplaas

My beminde en sy assistent swoeg en sweet elke Saterdag om ons huisie in 'n paleis te verander.
As ek so na die before en after foto's kyk swel my hart met trots!