28.3.12

Like mother like daughter

Mystery Shopping

Ek en my beminde het vandag die geleentheid gekry om gratis middagete by ‘n baie grênd plek te gaan eet.  Die rede hiervoor was om na die tyd ‘n elle-lange lys in te vul vir navorsing oor die diens wat die restaurant lewer.
Vreeslik underdressed het ons ordentlik ons bestelling geplaas terwyl daar aan dubbeldik melkskommels gesmul word.  Toe ek my fettuccini alfredo kry word hy gelooi met swartpeper, Tabasco en parmesan (dié kom toe in ‘n raspermasjientjie wat geen mens kan werk nie). 
In die middel van die ete word daar geskarrel om servette te kry om sous wat wie-weet-hoe op ons wange beland het, af te vee.  Met dié val die raspermasjientjie met ‘n geklêtter in my beminde se bord en jy sien net parmesan en ysteronderdele vlieg! 
Tamatie is nie die woord nie…

27.3.12

Chuck

As ‘n baie groot aanhanger van die reeks Chuck, is dit vir my moeilik om te verteer dat ons gisteraand die laaste episode van die laaste seisoen gekyk het.   
Ek het al deel gevoel van die Bartowski-familie en as lid van die CIA my secret weapons in my skoene en hare gekamofleer.
Aan al die Chuck-kykers; moenie skroom om seisoen 5 klaar te maak nie – daar wag ‘n skok en ‘n half! (Ek het lanklaas so gehuil voor die kassie.)

26.3.12

Koffiekapitaal

Ek wil elke jaar trou as dit beteken dat ons sulke fantastiese geskenke gaan kry!
My vriendin duisend, staatmaker en raakvatter, hart van goud en altyd  gereed met ‘n grappie, Talita, het voorendag gekom met ‘n geskenk wat mens laat uitsien om op te staan in die oggend: ‘n Mellerware koffiemasjien.
Dié is nie jou standaard masjien nie: filterkoffie, espresso en cappuccino is te make hiermee.  Dit is nog effe hoërgraad vir my, maar my beminde het die kuns van die cappuccino bemeester en word ek elke aand bederf met ‘n ekstra suikertjie. 


19.3.12

Piesangbrood

Ek en my beminde het altwee ‘n soettand, so daar is gevolglik áltyd iets lekker in die huis.  Noudat ek ‘n mevrou is sal minder van hierdie lekkernye gekoop en meer daarvan selfgemaak word; it comes with the territory.

My ouma se piesangbroodresep is flopvry en sal enige smulpaap se lus blus.

250g botter
2 koppies meelblom
1 teelepel bakpoeier
4 ryp piesangs (fyngemaak)
½ koppie kookwater
2 eiers
1 teelepel vanilje
1 koppie suiker
1 teelepel koeksoda

Room botter en suiker goed.  Voeg eiers en piesangs by.  Sif meer en meng saam met vanilje.  Los koeksoda op in kokende water en voeg by mengsel.  Voeg bakpoeier by.  Bak teen 180 grade vir 45 minute.

Troufoto's

Die kiekies van ons troue het so mooi uitgekom, ons is vreeslik in ons skik.  Vir meer kliek hier.





15.3.12

Tagine

Ek sal my niggie Rhona ewig dankbaar wees vir haar trougeskenk aan ons; ‘n Maxwell & Williams tagine.
Dit is nou al ‘n hele ruk wat ek droom van watertand Morokko-inspireerde disse wat heeldag prut in dié vreemdgevormde pot.  Die tagine is geskik om op ‘n stoofplaat of in ‘n oond sy werk te verrig, wat dit gerieflik maak indien jy van die ander elemente benodig.
Met die uittoets van die tagine het ek eksperimenteer met beesvleis, kerrie, aartappels, murgpampoentjies en mielies, bedien op bruinrys. 
Dit was geskik vir die koningin haarself.


13.3.12

Trougeskenke

Een van die hoogtepunte van ‘n bruilof is om na die makietie saam met jou beminde op die bed te sit en trougeskenke oop te maak.
Ons was baie bevoorreg om ‘n groot aantal geskenke te kry en anders as baie ander pasgetroudes, het ons dié items baie nodig gehad.
‘n Gunsteling onder die geskenke is ‘n mosaïekspieël wat ons vriend Juan vir ons gemaak het.  Dit is duidelik dat daar soveel tyd, moeite en liefde is hierin gesit is.  Met ons huisie wat ‘n make-over ondergaan, gaan hierdie kleurvolle kunswerk pronk teen ‘n nuutgeboude en -geverfde muur.


10.3.12

Umzumbe

Umzumbe, ‘n klein dorpie aan die Natalse suidkus, was die bestemming van ons wittebrood. 
Hoewel ‘n groot deel van hierdie kus weens rotse nie ideaal is vir swem nie, is die strand fantasties vir luilekker dae in die son.  Tot ons spyt het ons net een so ‘n dag beleef: Sikloon Irina het haar opwagting gemaak en wind en reën was ons voorland.
Ons verblyf by High Seas was uit die boonste rakke met ‘n uitsig oor die see en rivier wat geen ewenaar het nie.  
Umzumbe is slegs 15 minute van Port Shepstone en 20 minute van Shelly Beach waar daar verskeie seekosrestaurante uit die boonste rakke is.

 Ons stoep by High Seas

8.3.12

Back to reality

Die geharwar van bouers, troue-reël en ‘n huis vol mense is iets van die verlede en ek en my beminde (nou wetlik my man) kan terugkeer na ‘n rustiger – tog nie oninteressante – lewe.
Die huis is woonbaar, die troue was ‘n reuse sukses en dit was fantasties om familie en vriende wat van ver af gekom het te sien.
Hou gerus die blog dop vir inspirerende gebeure wat tydens ons troue en wittebrood plaasgevind het.