30.1.12

Romantiese Rumba

Step aside Fred Astaire and Ginger Rogers… there’s a new couple in town!
Ons eerste les vir ons openingsdans op die troue was ‘n reuse sukses.  Ons is gebore om die slow quick quick slow quick quick van die rumba te doen en dit is soveel pret!
En nou het ek ‘n onblusbare lus om Dirty Dancing te kyk… nobody puts Baby in the corner

26.1.12

Tandarts

Ek is senuagtig as dit kom by tandartse.  Selfs al is ek blou om die kiewe van tandpyn is dit nog nie rede genoeg om die foon op te tel en ‘n afspraak te skeduleer nie.  Dit moet régtig erg wees.
Vanoggend by Doctor Torture (soos ek hulle graag noem) aangekom, word daar terloops gestel dat ‘n nood-wortelkanaal gedoen moet word.  Moet ek lag of huil?  Die rilstories wat ek van wortelkanale gehoor het grens vir my aan vingernaels-uittrek-met-‘n-tang of elektriese-drade-koppel-aan-oorlobbe.
Voor ek my oë kon knip is my mond oopgespalk en word daar met vreemde toebehore daarin gelol.  Elke sekonde was ‘n nagmerrie – glo my vry.
Ek het met ‘n dik lip daar uit gestrompel met die wete dat ek oor ‘n week dieselfde paadjie moet loop.  Ek sukkel om die silwerrandjie om hierdie donkerwolk te sien.

24.1.12

Afstandbeheer

Ons het so twee jaar terug ontslae geraak van Dstv om verskeie redes, maar grootliks omdat daar so baie kanale is en meestal niks om te kyk nie.
Kort daarna is ‘n multi-media player aangeskaf.  Wat ‘n masjien!  500G se films, dokumentêre, series en musiek kan opgelaai word. 
Vir ‘n bietjie afwyking gisteraand, het ons onsself gemaklik gemaak voor die televisie net om met groot irritasie agter te kom dat die afstandbeheer nie werk nie, die battery is waarskynlik pap.  Hier is die kicker: dié tipe masjiene het nie knoppies op om by die gekose storie uit te kom nie, jy is totaal afhanklik van die afstandbeheer.
Tegnologie is partykeer skrikwekkend, en ander kere ‘n seën.  Ons kon sonder moeite ‘n dokument op ‘n flash disk laai en op die Sony Bravia koppel, terugsit en vermaak word.

22.1.12

Die Stoetmeester

Etienne van Heerden se roman, Die Stoetmeester, is ‘n volronde verhaal wat ‘n verskeidenheid temas aanvat.
Die spesiale band tussen broer en suster is een van die opmerklikste boodskappe in die boek.  Selfs in hul middeljare het die verteller en sy suster, Sarah, die vermoë – miskien gesien as ‘n sesde sintuig – om woordeloos te kommunikeer; om “aan te voel” as iets fout is.
Die omgewing speel ook deurgaans ‘n belangrike rol.  Die ongerepte landskap van die Oos-Kaap word met deernis beskryf en die skrywer laat ‘n verlange oor aan die leser.
Met die rivier en floubokke as simbole word die psige van die hoofkarakters tot die uiterste ontbloot.

Die Stoetmeester is nie ‘n maklike lees nie: Van Heerden gebruik ‘n akademiese tipe-aanslag, en ek moet bieg, ek moes ‘n keer of twee ‘n woordeboek nader hark om sin te maak van bepaalde woorde.

“Mense uit milder streke sal nooit begryp waarom ons so bewus bly van die landskap nie.  Die een oomblik getuig dit van ontbering en karigheid, die volgende oomblik is daar ‘n majestueuse beweging, asof ‘n beeldhouer met klip en wolk, grond en afstand as materiale ‘n bevlieging van inspirasie gekry het.”


20.1.12

Dak

Ek het op ‘n stadium gedink dat hierdie dag nooit sal kom nie – maar teen alle verwagtinge is die dak eindelik op!
Ek sou myself nooit kon verbeel dat ek so opgewonde kan raak oor sink nie, maar ek het omtrent die chicken dance gedoen van blydskap.
Die tyd raak nou regtig min – ek hou duim vas dat die bouers teen die einde van die week vir goed uit ons lewens sal verdwyn.


19.1.12

Trouvenue

Ek en my vriendin is trouvenue toe om finale reelings te tref.
Met die inskopslag het my maat beheer geneem en met nuwe idees vorendag gekom.  Daar is beplan, lysies gemaak en uitbundig gegiggel van opwinding.  Sy is ‘n raakvatter.
Al my bekommernisse in dié verband is iets van die verlede. 
Dankie Talita, jy is ‘n vriendin duisend!

18.1.12

Wat 'n week (sover) ...

Daar is nou maar sekere weke wat beter is as ander, en hierdie een val nie vir ‘n oomblik in daardie kategorie nie.
Die frustrasies wat gepaard gaan met ‘n bouery en ‘n trouery op dieselfde tyd kan nie beskryf word aan iemand nie.  So elke ander “klein” dingetjie wat gebeur het die potensiaal om mens heeltemal te ontsenu.
Ek het gister die pad gevat Zambesi Aluminium en Glas toe om deure wat foutief was en herstel is te gaan oplaai.  Zambesirylaan is niemand se vriend nie – maar as elke robot buite werking is grens dit aan ‘n vreesaanjaende katastrofe.  By die glasplek aangekom was dit eers ‘n gestoei om te verduidelik dat ons vier deure afgelaai het en dat ek dus vier deure moet terugkry, nie drie soos hulle aandring nie. Phew… terug op robotlose Zambesi…
By die huis aangekom verduidelik my beminde aan my dat die bouers die dak so skeef opgesit het dat dit Elton John laat lyk soos Don Juan.  Die dag se werk is verlore: al die sinkplate moet afgehaal word en hulle moet van voor af begin.
Al wat my op die stadium sou kalmeer was ‘n koppie Milo.  Soos ek die koppie melk uit die mikrogolf haal om van die wonderpoeier in te gooi val die koppie uit my hand.  Die hele kombuis was wit, so ook my klere, hare en oogwimpers. 
Dié was nou die LAASTE strooi!!

17.1.12

Kaktus

Dit is ‘n volle 39 dae voor die groot dag en daar is nog BAIE te doen.
Ek het wel ‘n bietjie vinger getrek en die plantjies oorgeplant, en dit lyk te pragtig!  My grootste bekommernis is nou om plek vir hulle in die saal te kry… tipies!   
So baie idees: so min tyd, plek en geld.


16.1.12

Swartbessie

Maandae is oor die algemeen redelik blou vir my – maar vandag was een van daai wat redelik sal uitstaan.
Kort na my beminde die pad gevat het om eiendomme te gaan inspekteer het ek ‘n boodskap van hom ontvang dat hy sy Blackberry moet restart as gevolg van ‘n tegniese probleem.  Ek het nie veel daarvan gedink nie – maar toe ek ‘n boodskap terugstuur kom ek agter dat die ‘e’ op my sleutelbord foutief is.
Kort daarna het geen van die knoppies op die sleutelbord gewerk nie en was die logiese ding om my Blackberry ook te restart.  Maar toe ek die ‘aan’ knoppie druk is my foon so dood soos ‘n mossie. 
Dit kos my toe om te wag dat my beminde tuis is op die foon ‘n paar klappe te gee voordat hy aangaan, en nog ‘n paar trekke en stote voordat die sleutelbord werk.
Ek wil nie ‘n doemprofeet wees nie, maar ek vermoed hierdie is die begin van die einde.

10.1.12

Cliché's

Ek het vanoggend op hierdie kiekie afgekom – hoe waar is dit nie?


9.1.12

Libellula Besigheidskaartjie

Aan die begin van ‘n nuwe jaar wil mens graag ’n vars begin maak in alle aspekte van mens se lewe. 
Dit is nie noodwendig doenbaar nie – maar nuwe besigheidskaartjies is iets wat my altyd opkikker. 
Die briefhoofte, fakture en alles wat daarmee gepaard gaan sal ook nou ‘n facelift kry en hopelik sal ek teen die einde van die maand ‘n nuwe website ook kan aandurf! 


5.1.12

The Girl Who Kicked The Hornets' Nest

Ek is half tranerig na ek die laaste boek van die Stieg Larsson trilogie gelees het. ‘n Lewe sonder Lisbeth Salander en Mikhael Blomkvist is een wat ek my nie kan voorstel nie.
The Girl Who Kicked The Hornets’ Nest is my gunsteling van die Millennium boeke.  Hoewel dit al die loose ends saambring, vind die outeur steeds nuwe wyses om die leser te skok – soms in ‘n goeie manier en soms…
Indien jy nog nie deur Larsson verlei is nie, wend asseblief ‘n groot poging aan: jy sal nie spyt wees nie.

“Nobody can avoid falling in love... They might want to deny it, but friendship is probably the most common form of love.”


4.1.12

Slaai à la...

Ek is nie baie lief vir slaai nie, maar hierdie is heerlik!

1 x handvol kontinentale slaaiblare
½ x komkommer, in blokkies gesny
5 x klein tamaties, halveer
1 x wortel, in repies gesny
½ x greenpepper, in repies gesny
3 x wit sampioene, in repies gesny
1 x handvol ongesoute cashew neute
4 x plakkies paprika ham, in blokkies gesny
1 x wieletjie knoffel en kruie fetakaas

Bedien met Ina Paarman se Ceasar slaaisous.  


3.1.12

In die hitte van die stryd

So het ons huishouding drie yskaste.
Yskas een staan in die motorhuis as gevolg van ‘n gebreekte compressor. Die yskas is waarskynlik die nuwe woning van Mnr. en Mev. Muis, wat ander rondstaande items in die motorhuis met mening omstamp en verniel (dit is met tye regtig angswekkend).
Yskas twee staan in die effe beknopte kombuis (met die bouwerk moes ‘n paar strukture tydelik verander).  Hoewel dié yskas ook nie werk nie, is dit by verre die aantreklikste: ongeveer 60 jaar oud met rondings en karakter wat enige SMEG sal laat bloos.
Die derde en enigste werkende yskas het nou ook die gees gegee. Omrede dié een 'n glasdeur het was dit nie te moeilik om agter te kom hoe pap die tamaties en gesmelt die kaas lyk nie.  
Ons sal inderhaas 'n plan moet beraam - maar wonder net hoekom hierdie tipe goed altyd in hoogsomer moet gebeur?

2.1.12

'n Dak oor ons koppe

My beminde en sy assistent het met groot ywer aan die werk gespring om te verseker dat ons gouer eerder as later beskut is teen reën en wind en vreemde vlieënde voorwerpe. 
Die balke is verskriklik swaar en die dak is ‘n goeie agt meter hoog, so die twee het hul werk vir hul uitgeknip gehad.  Al agt balke pronk in die nuwe kantoor – ek glo ons sal teen die einde van die week simfonieë van reëndruppels op ons sinkdak hoor.


1.1.12

Voorspoed vir 2012

Mag die jaar wat voorlê vir ons elkeen een wees wat oorloop van liefde en vreugde en dat ons deur alles sal positief bly.
Ek het wel een nuwejaarsvoorneme: beter tydsbesteding.  So baie goed wat mens graag wil doen - boeke wat gelees moet word, skilderye wat voltooi moet word, nuwe resepte wat probeer moet word... Hierdie jaar wil ek tyd maak daarvoor, sonder om die belangrike dinge af te skeep.

Your time is limited, so don’t waste it living someone else’s life. Don’t be trapped by dogma — which is living with the results of other people’s thinking. Don’t let the noise of others’ opinions drown out your own inner voice. And most importantly, have the courage to follow your heart and intuition. They somehow already know what you truly want to become. Everything else is secondary.” - Steve Jobs